Kaapstad een van wêreld se beste troubestemmings

Kaapstad spog met die tweede plek op die indeks danksy die warm en sonnige klimaat – en dit word as ʼn perfekte bestemming bestempel as jy ʼn buitelugtroue verkies. (Foto: 12 Apostles Hotel and Spa/Facebook)

Kaapstad spog met ʼn nuwe titel – die Moederstad is onlangs aangewys as die tweede beste plek om ʼn sogenaamde bestemmingsbruilof te hou.

Die Britse juweliersgroep Daniel Christopher stel jaarliks ʼn indeks van gewilde troubestemmings saam wat nie net ʼn prentjiemooi agtergrond vir jou groot dag bied nie, maar ook lieflike weer en ʼn lewendige kultuur.

Mexikostad is volgens die indeks die wêreld se beste stad om te gaan troue hou. Die Mexikaanse hoofstad bied die goedkoopste prys vir vyfsterhotelverblyf, word as begrotingsvriendelik vir paartjies bestempel en het ʼn wye verskeidenheid tophotelle om van te kies.

Kaapstad spog met die tweede plek op die indeks danksy die warm en sonnige klimaat – en dit word as ʼn perfekte bestemming bestempel as jy ʼn buitelugtroue verkies.

Cancún, ook in Meksiko, beklee die derde plek. Die stad is bekend vir sy warm temperature regdeur die jaar en dit maak van die stad die ideale bestemming vir ʼn bruilof in enige seisoen. Danksy die sonskyn, warm klimaat en gewildheid as ʼn bestemming vir strandtroues, is Cancún een van die stede op die indeks waaroor ook die meeste navraag gedoen word.

Die indeks kyk ook na die gemiddelde prys van ʼn vyfsterhotel om te bepaal watter stede toptroubestemmings is.

Mexikostad is weereens in die eerste plek en word as ʼn uiters bekostigbare troubestemming bestempel. Die koste van vyfsterhotelverblyf in dié stad is byna sewe keer goedkoper as die hoogste gemiddelde hotelprys op die indeks.

“Dit maak dit die perfekte bestemming vir paartjies wat steeds iets spesiaal vir hul groot dag wil doen, maar op ʼn klein begroting.”

Johannesburg – veral danksy die stad se talle boetiekhotelle wat dikwels ryk aan geskiedenis is, en met alle historiese geboue wat in luukse hotelle omskep is – bied aan paartjies unieke ondervindings op hul groot dag.

Wat betref die aantal vyfsterhotelle in ʼn stad, is Londen in die eerste plek, gevolg deur Parys en Kaapstad. Die Moederstad spog met altesame 82 vyfsterhotelle en elkeen het sy eie unieke bekoring. Hotelle wissel van dié met ʼn uitsig op die majestueuse Tafelberg, tot bekroonde spa-hotelle en toprestaurante.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius ·

Die akkommodasie en venues is belaglik duur in die kaap. Trou eerder by jou kerk en huur die kerksaal, die dames vereniging kan ook heerlike kos of versnapperinge voorberei . As jy ‘n gemeente lid is kry jy ook baie goedkoper tariewe. As jy wil drink en lawaai maak gaan dit egter nie werk nie.

JohanR ·

1st there is the engagement ring, then the wedding ring, then the suffering!

piet ·

Ek het gelukkig net tot by verlowingstatus gevorder en darem my ring teruggekry.

piet ·

Pragtige dag in die Kaap vandag. 31 Grade Celsius. Seker die laaste werklike warm dag voor die winter aanbreek, ek sien dis darem more ook 27. Ons is darem gelukkig met ons weer in SA, ‘n paar weke van amptelike winter af en kyk net hoe lekker warm is dit nog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.