Kaapstad-egpaar vas oor dwelms in “luukse huis”

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Egpaar van Kaapstad is in hegtenis geneem nadat dwelmmiddels met ʼn geraamde straatwaarde van R100 000 by hul luukse huis opgespoor is.

“Die polisie het Maandag ʼn klopjag uitgevoer op die egpaar se huis in Pelican Heights,” het genl.maj. Jeremy Vearey, groepbevelvoerder vir Mitchells Plain, Dinsdag gesê.

Die polisie het 740 pakkies Tik (metamfetamien), 100 gram ongeprosesseerde Tik en 1 560 Mandrax-tablette opgespoor. Die Mandrax-tablette is glo in ʼn plastiek babamotorfietsie versteek.

Volgens Vearey is ʼn nuwe tipe mandrax-tablet ontdek. Tablette word gewoonlik met die letter “B” gemerk, wat aandui dit is “Boss” of “Bentley”. Sommige van die pille in die sak is glo met “E” vir “Eagle” gemerk. “Ons het sedert die begin van 2014 hierdie Eagle-tablette begin opmerk,” het hy gesê.

Die polisie het ook beslag gelê op ʼn onbekende bedrag kontant en ʼn 9mm-vuurwapen met verskeie rondes ammunisie.

Vearey sê dit is ʼn nuwe neiging om dwelmmiddels in die “welgestelde, boomryke” gebiede te vervaardig en te stoor eerder as op die Kaapse Vlakte. “Inwoners moet hul bure in dié buurte leer ken,” het hy bygevoeg. “Mense moet ook bewus raak van enigiets anders wat verdag kan wees, en nie net huisroof nie.”

Hy het gesê inwoners se ondersteuning is noodsaaklik.

Die egpaar, in hul 30’s, word glo ook gekoppel aan ʼn bekende dwelmhandelaar wat tans tronkstraf uitdien. Hulle moet binnekort in die Mitchells Plain-landdroshof verskyn. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Babs ·

Mens wonder net wat word van die dwelm smouse nadat hulle die boetes betaal het. Sover is nog geen afskrikmiddel gevind want die besigheid floreer.

Peter Says ·

Babs, hulle gaan rustig terug na hulle huise, en doen wat hulle die beste doen, jy sien, al is dit verbode wat hulle doen, is dit ook maar deel van n ekonomie.

Belinda ·

Baie waar Peter………………..gaan net aan asof hulle ‘n werk het……………..

ESTELLE ·

@Peter Says – doen wat hulle die beste doen f.k ons kinders se lewens op! verwoes gesinne! sorg laat rehabs vol bly en dan as hulle uitkom, vang hulle vas in dieselfde web! ons ekonomie gaan die die generasie gaping vul nie! bring ander lande se wette in waar “dealers” dood straf kry, maar straf die “junkies” met ‘n baie lang tronkstraf “hard labour”, maar hou net verslaafdes in die tronk seksie aan!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.