Kaapstad eindelik deel van Delta Air se roete

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Delta Air Lines/Facebook)

Die Amerikaanse lugdiens Delta Air Lines kan eindelik sy planne voortsit om Kaapstad aan te doen as deel van sy Atlanta-Johannesburg-roete. Dit kom nadat die lugdiens se herhaaldelike versoeke om dié roete in te stel sedert verlede jaar deur die departement van vervoer verwerp is.

James Vos, Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede, het die regering se besluit om hierdie roete eindelik goed te keur, verwelkom.

“Hierdie goedkeuring kom al ʼn lang tyd, aangesien ek vir die afgelope paar maande voorleggings namens die Stad Kaapstad aan Fikile Mbalula, minister van vervoer, asook die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu, oor hierdie aangeleentheid gemaak het,” sê Vos.

Die Kaapstadse Internasionale Lughawe ontvang nou eindelik sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie daagliks duisende passasiers.

Verskeie internasionale lugrederye het ook vanjaar hul roetes na Kaapstad hervat, met onder meer Emirates wat weer na en van Dubai vlieg en British Airways wat direk na die Heathrow-lughawe in Engeland vlieg.

Die VSA se United Airlines het ook onlangs aangekondig dat hy regstreekse vlugte tussen Kaapstad en New York van Junie vanjaar sal hervat. Die lugredery het ook aansoek gedoen om direkte vlugte tussen Kaapstad en Washington DC te bedryf.

“Die afgelope dekade was die VSA die grootste bron van direkte buitelandse inkomste in die Wes-Kaap met byna R20 miljard wat hier bestee is,” sê Vos.

“Ek sien uit daarna om meer Amerikaanse reisigers in die komende maande aan ons kus te verwelkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tjom

Was pas self in Jhb en daar is geen rede meer oor om uit die Kaap soontoe te vlieg nie. Geweldige hoeveelheid potholes orals, niemand stop by n robot nie, die wat nog werk daarby, dorpe lyk swak en verwaarloos. Neewat. Delta mense kan maar in Kaap land en van hier af weer terugvlieg.

Winnie

Afrika tyd sal daar altyd wees. Kan nie besluite dadelik neem nie. Seker nie iets in die sak nie

JohanR

Dankie. Maar wie behalwe die super rykes en ministers kan bekostig om te vlieg en ses weke in Europa rond te wandel. Ek het Europa in 1988 vir ses weke gekuier, en dit sal seker in my leeftyd die laaste wees wat ek sal bekostig. 1988 – R1.71c koop jou $1. Vandag R14.97c koop jou $1