Kaapstad-fietswedren eis drie

Van die deelnemers aan die Kaapstad-fietstoer. Foto: Twitter via @CTCycleTour.

Altesaam drie mense is in afsonderlike voorvalle Sondag tydens die gewilde Kaapstad-fietstoer (voorheen bekend as die Cape Argus-fietstoer) dood.

David Bellairs, die organiseerder van die wedren, het Maandag die drie sterftes in ʼn verklaring bevestig.

“Ons het laat gistermiddag die hartseer nuus ontvang dat een van ons beamptes, ʼn vrywilliger wat verbonde is aan ʼn Rotariërklub, in ʼn hospitaal oorlede is. Hy was tydens die fietstoer gevestig by die S-buiging naby die Llandudno-afrit,” het Bellairs gesê.

“Die omstandighede rakende sy dood is tans onduidelik en word saam met die polisie ondersoek.”

Volgens berigte is die beampte glo deur ʼn fietsryer raakgery waarna die beampte na ʼn plaaslike hospitaal geneem is vir behandeling.

“Ons Rotariërklub-beamptes was nog altyd ʼn wesenlike deel van die suksesvolle bestuur van die Kaapstad-fietswedren. Die meeste van hulle werk jaarliks baie nou saam met ons in ʼn vrywillige hoedanigheid. Hulle is deel van die fietswedren se familie en ons is baie hartseer oor hierdie nuus,” het hy gesê.

Vroeër die dag is ʼn 40-jarige man glo in ʼn opeenhoping dood waarin 20 fietse op die Wynberg-heuwel betrokke was. Kenny Africa, Wes-Kaapse hoof van verkeer, het die nuus Sondag aan Maroela Media bevestig.

“Een van die fietsryers het onmiddellik mediese behandeling op die toneel ontvang, maar sy beserings was noodlottig. Ons bevestig dié nuus met diep spyt,” het Wendy Masters, ʼn woordvoerder van die wedren, Sondag gesê.

In ʼn onverwante voorval is ʼn 69-jarige fietsryer glo by Smitswinkelbaai aan ʼn hartaanval dood.

Die name van die oorledenes is nog nie bekend gemaak nie.

Nagenoeg 35 000 fietsryers het aan vanjaar se fietstoer deelgeneem.

“Vir die meerderheid van ons fietsryers en diegene wat agter die skerms gewerk het, het die 2018-Kaapstad-fietstoer ná maande lange harde werk ʼn hoogtepunt bereik, maar drie families is in rou gedompel weens dié lewens wat tydens vanjaar se roete geëis is. Ek wil almal verseker dat alle maatreëls getref word om die veiligheid van ons deelnemers en beamptes te verseker. In die 28 jaar wat ek by die toer betrokke is, was daar nog net twee traumaverwante sterftes op die dag van die wedren gewees,” het Bellairs gesê.

Bellairs het namens die organiseerders sy innige meegevoel aan die oorledenes se naasbestaandes betuig en versoek dat hul privaatheid gerespekteer word.

Lt.kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het aan Maroela Media bevestig die polisie ondersoek twee sake van strafbare manslag en doen een geregtelike doodsondersoek.

  • Nolan Hoffman en Kimberley le Court de Billot het Sondag onderskeidelik die mans- en vroueafdeling gewen. Hoffman se wentyd was (nieamptelik) 2:37:30 terwyl Le Court de Billot die wedren in 02:11:50 voltooi het. Dié sege is Hoffman se derde fietstoertitel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vergelyking ·

Vergelyk dit met 35 000 wat oor ‘n langnaweek op ons paaie gelos word. Saterdag op pad na Val se Boer- en Britdag het ek slegs die hoofroete gery tussen Balfour en die afdraai na Val. Verskeie motors ry soos besetenes en steek verby teen sperstrepe. Dan is die dood op die pad aanvaarbaar?

Maggie ·

Baie jammer vir elke familie wat hierdeur geraak word.Sterkte vi julle!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.