Kaapstad: ‘Gatvol’-betogings ontwrig inwoners

Honderde neem deel aan die betogings in Kaapstad (Foto: Henk Kruger, ANA)

Die Stad Kaapstad het Maandag alle vullisverwyderingsdienste opgeskort uit vrees dat die personeel en voertuie onder oproerige betogers gaan deurloop. Betogers teiken sedert verlede week die Stad se personeel en voertuie.

Die stadsraad sê in ʼn verklaring beperkte vullisverwydering in gebiede wat nie direk deur betogings geraak word nie, is ook nie in dié stadium moontlik nie. Dit is omdat die meeste personeellede uitdagings ervaar om na en van die werk te reis weens die voortdurende onrus.

Die drukgroep Gatvol Capetonian het Maandag gedreig hy gaan sekere dele van Kaapstad, waaronder hoofweë en toegangsroetes, tot stilstand bring. Volgens die drukgroep wil hy die aandag vestig op die toestande waarin agterplaasbewoners op die Kaapse Vlakte woon.

Keeromstraat in die middestad van Kaapstad, wat die tuiste van die Wes-Kaapse hooggeregshof is, is weens die betogings gesluit. ʼn Gedeelte van die R300 in Kuilsriver, noord van die stad, Peter Barlowweg, tussen die Robert Sobukwe- en Kasselsvleipad in Belville-Suid, asook dele in die noordelike voorstede is weens die betoging tot stilstand gebring.

Volgens Albert Fritz, die minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, is vyf betogers Maandag om 07:20 in hegtenis geneem nadat hulle die pad met brandende motorbande in  Steenberg en Jakes Gerwelweg in Bishop Lavis versper het. Hy sê voertuie is ook in Robert Sobukwestraat met klippe bygedam.

Optogte het ook in Heideveld op die Kaapse Vlakte opgevlam, wat die tydelike sluiting van Duinefonteinweg tot gevolg gehad het. Motorbande is op die aansluiting tussen Forestweg en die R102 gebrand.

Brig. Novela Potelwa, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê daar is ook protesoptrede in Kraaifontein, Mamre, Mitchells Plain en Steenberg. Sy sê die Wes-Kaapse polisie het onderneem om met die stad se wetstoepassingsowerhede saam te werk om burgers teen die gewelddadige protesoptrede te beskerm.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het ʼn beroep op die polisie gedoen om te verhoed dat wetsgehoorsame burgers geterroriseer word. Hy het van die Wes-Kaapse polisiekommissaris ʼn gekoördineerde wetstoepassingsreaksie versoek om inwoners te beskerm.

Die stad gaan al weke lank gebuk onder daaglikse betogings met betrekking tot onwettige grondbesettings en behuising. Plaaslike wetstoepassingsowerhede het reeds talle pogings aangewend om die betogings te stuit.

Fritz het ʼn beroep op inwoners van Kaapstad gedoen om kalm te bly en hulself te weerhou van geweld tydens openbare protesoptrede.

“Die beskadiging van eiendom beïnvloed veral ons behoeftige en kwesbare inwoners en kan nie in ʼn grondwetlike demokratiese samelewing geregverdig word nie. Dit is duidelik dat ʼn kleiner groep aanhitsers hierdie betogings lei en voorgee dat hulle namens die massas praat,” sê Fritz.

Fritz sê hy neem kennis van die bestuur van die polisie in die provinsie wat onderneem het om hulpbronne binne die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe te mobiliseer om enige wetteloosheid te bekamp.

“Die polisie, metropolisie en verkeersdienste is op gereedheidsgrondslag geplaas. Die provinsiale polisie het ʼn streng waarskuwing aan alle gemeenskappe uitgereik om hulle aan die wet te onderwerp. Openbare geweld is ʼn oortreding wat strafbaar is met die wet,” sê Fritz.

Fritz wys daarop dat die polisie bedag moet wees op wanneer hulle op betogers behoort toe te slaan. Dit volg ná polisiebeamptes na bewering Vrydag ʼn groep betogers tydens ʼn vreedsame betoging voor die parlement in Kaapstad met waterkanonne en skokgranate verjaag het. “Dit is noodsaaklik dat die polisie se openbareorde-polisiëring (POP) se protokol dringend hersien moet word om te verseker dat die polisie se reaksie voldoende en eweredig is aan die bedreiging wat hulle ervaar,” sê hy.

Fritz doen ʼn beroep op enigiemand wat kennis dra van openbare geweld om dit by die polisie by 08600 10111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Genis ·

Nou waar is die weermag nou? Stedelikke tereur is mos hulle baba ook? Dis eindelik so pateties.. En glo my vry die ANC gaan met die volgende verkiesing, as daar een gaan wees, weer loshande wen….

Kokerboom ·

Nou waar is die beskermingsmagte? Moet hul die ekonomie nog verder opneuk?!!!Hoe lank gaan die redelike man nog die twak verdra???

Magda ·

kyk geen maskers en afstand nie – Nou word alle ekonomiese bedrywighede geboikot oor mense soos die wat net maak en se wat hulle wil. Verkoop alkohal en sigarette want die probleem le nie daar nie – dit le op die foto KOPDOEK

Werner ·

Glo nie daar is meer n weermag nie en as hierdie tipe van ding hand uitruk het ons nie die nodige veiligheidsdienste om dit te hanteer nie

My Mening ·

Glo my baie van ons is goed GATVOL, maar dit gee nie ‘n persoon die reg om mense se lewens in gevaar te stel of hulle eiendom te beskadig omdat jy ongelukkig is oor iets nie!!!

Persheks Adri ·

Weermag skitter in hul afwesigheid! Geen wet en orde in die land nie dankie ANC!

Elsie ·

Waar is die skokgrante en waterkanonne nou? Skies dis mos our people wat strike so hoekom moet ons dit nou bring. Lafaards hulle het julle in die gatsak. Net n handjie vol en hulle maak n hele metropool tot stilstand kom . Grootste grap die maar was dit omgekeer was die polisie met hulle waterkanonne en skokgrante weer daar.

RekmyBek ·

Lyk my hul wil graag eerder deur die korrupte ANC regeer word…

Adeline ·

Wonner nou WAAR is die water kanonne nou en die hardhandige optredes teenoor die oproerige misdadigers (steek goed aan die brand en gooi met klippe) Traan rook granate soos hulle teen die vreedsame betogers (wat niemand skade berokken het nie en BESKAAFD opgetree het) gebruik het. Die prioriteit van die huidige korrupte optrede van die sapd spreek ook boekdele – verseker!!

Sobymykoolkop ·

Waar is die bang polisie met hul waterkanonne? Waar is die verbod op samekomste van meer as 50? Hulle moes mos by die honderde toegesluit gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.