ʼn Gesin van vier is Dinsdagoggend uitgewis toe ʼn brand in hul informele struktuur uitgebreek het in Kalkfontein in Kuilsrivier, ʼn woonbuurt in die noordelike deel van Kaapstad. Die jongste slagoffer was slegs twee jaar oud.
Stanton Wagenaar, een van die bure, het gesê hy het mense hoor skree en toe hy by sy venster uitkyk, het hy die vlamme gesien. “Ons het net vlamme gesien. Ek het vir my broer gesê ons moet help om die brand met sand en water te blus. Ons wou help, maar daar was te min water,” het Wagenaar verduidelik. “Die brandweer moes vroeër gekom het. Toe hulle opgedaag het, was dit te laat. Dit is ʼn absolute tragedie.”
ʼn Familielid van die gesin, Ferenscia Peterson, het gesê forensiese patoloë was op die toneel. “Ons weet die brand het in die struktuur uitgebreek, maar ons is nog nie seker of die oorsaak ʼn kortsluiting was of nie.”
Jermaine Carelse, woordvoerder van Kaapstad se brand- en reddingsdiens, het gesê die brandweer is omstreeks 03:10 ontbied. “Die pa, ma en hul twee dogters, onderskeidelik tien en twee jaar oud, was in die huis vasgekeer. Ondanks dapper pogings deur die brandbestryders, kon die gesin nie gered word nie. Die brand is om 03:55 geblus. Die polisie stel verder ondersoek in,” het Carelse gesê.
- (Foto: Brendan Magaar/African News Agency/ANA)
- (Foto: Brendan Magaar/African News Agency/ANA)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
Baie hartseer…