Kaapstad het Afrika se beste lughawe

Welkom in die Moederstad! Kaapstad Internasionale Lughawe is weer die vasteland se beste lughawe. Foto Facebook

Kaapstad Internasionale Lughawe is vir die tweede jaar agtereenvolgens as die beste lughawe in Afrika aangewys.

Die prys is Saterdagaand tydens die gala-prysuitdeling van die 25ste jaarlikse Wêreldreispryse vir Afrika en die Indiese Oseaan in Durban se Internasionale Konferensiesentrum aan die Kaapse lughawe toegeken.

ʼn Magdom ander wenners is ook op die glansgeleentheid aangewys. Ethiopian Airlines is die vasteland se beste lugredery sowel as beste lugrederyhandelsmerk, terwyl Kenya Airways aangewys is as die beste lugredery vir besigheidsklas sowel as ekonomieklas. Die SAL se vlugtydskrif, Sawubona, is as die beste van alle Afrika-lugrederye se publikasies aangewys.

Nog Suid-Afrikaanse wenners is die Pezula-hotel by Knysna, wat as Afrika se mees romantiese oord aangewys is, Sun City is die vasteland se beste oord, die Shambala- private wildreservaat naby Vaalwater in Limpopo is die beste van sy soort in die hele Afrika en die Bloutrein is die beste weeldetrein.

Wat lande betref, is Suid-Afrika amptelik Afrika se beste bestemming en die Suid-Afrikaanse Toerismeraad die beste in sy soort.

Die Pezula-hotel by Knysna is die mees romantiese oord in Afrika. Foto: Facebook

Durban is aangewys as die beste bestemmingstad op die vasteland, terwyl dié stad se hawe ook die prys as die beste vakansievaarthawe gewen het.

Van die 22 pryse aan die Suid-Afrikaanse toerismemaatskappye en -instellings het Avis die prys as beste motorverhuringsagentskap gewen, The Oyster Box is die land se beste hotel, Durban se Hilton is die beste sakehotel en The Bay in die Kaap die beste strandhotel.

Vier pryse is aan Namibiese maatskappye of bestemmings toegeken. Avis het ook hier gewen, terwyl die Hilton in Windhoek dié land se beste hotel is. &Beyond Sossusvlei Dessert Lodge is die beste safari-lodge en Ichingo Chobe River Lodge is die beste tentsafari-kamp.

Ook in Mosambiek is Avis die beste motorverhuringsagentskap. &Beyond Benguerra Island is die land se beste hotel, die presidensiële suite in die Polana Serena-hotel in Maputo is die land se beste hotelsuite en die Diamonds Mequfi Beach Resort is die land se beste oord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karolis ·

Baie geluk Kaapstad lughawe. Probeer tog om diefstal syfer af te kry.

Stephen Namibia ·

Vir eens stem ek saam met die feit dat Ethiopean en Kenya lugrederye die beste in Afrika is.
Het verskeie kere met hulle gevlieg en veral Ethiopean staan al verskeie jare uit in my boeke as die beste in Afrika. Goeie organisasie en goeie vliegtuie en ook op tyd!

Paul ·

Jammer die Krugerwildtuin is opgeneuk en staan nou bekend as die Kruger Pretpark.

Alwyna ·

Sê iemand tog vir my hoe kry Kaapstad lughawe dit reg? Wanneer jy daar aankom loop jy letterlik kilometers om by jou huurkar uit te kom. Deur n deukweg met n trollie vol bagasie en weer aan die anderkant die opdraende.
Golfkarretjies is maar skaars en hul bestuurders staan gewoonlik iewers en rook. Jy is gelukkig as jy een kry!
Daar is GEEN bewegende sypaadjies nie en stap is jou voorland!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.