Kaapstad-hof sal sê oor Aussie-pedofiel se uitlewering

Argieffoto

ʼn Australiër, wat skuldig bevind en tronkstraf opgelê is vir pedofilie in Kaapstad, probeer verhoed dat hy na sy land van oorsprong uitgelewer word, waar hy ook gesoek word in verband met soortgelyke oortredings.

William Booth, vir Anthony Peter Freedendal, het ʼn Wynberg-landdros versoek om sy kliënt se gesondheid in ag te neem wanneer daar oor sy lot besluit word. Freedendal (75) het velkanker op sy kop, tuberkulose, hoë bloeddruk, diabetes, bronchitis en ʼn harttoestand. Hy het ʼn verband om sy kop gehad nadat hy ʼn operasie in Pollsmoor-gevangenis ondergaan het.

Die staat het met die uitleweringsverhoor begin nadat owerhede in Australië formeel Freedendal se uitlewering versoek het sodat hy daar verhoor kan word op 24 aanklagte, insluitend onsedelike aanranding, seksuele uitbuiting van ʼn kind en verkragting. Volgens die hofdokumente is dié misdade tussen Junie 1999 en Januarie 2003 gepleeg. Die beweerde slagoffers is dogters en seuns tussen sewe en 11 jaar oud. Een van die slagoffers is ʼn negejarige meisie wat verstandelik gestremd is.

Staatsadvokaat Megan Blows het Vrydag tydens die uitleweringsverhoor gesê een van die voorvereistes voor ʼn persoon aan ʼn ander land oorgegee kan word, is dat daar voldoende bewyse teen die persoon moet wees om vervolging in die ander land te regverdig. Blows het gesê volgens die uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Australië word ʼn oortreding as uitlewerbaar beskou indien dit tot tronkstraf van meer as een jaar in albei lande kan lei.

In Freedendal se geval is van die aanklagte só ernstig dat dit waarskynlik tot lewenslange tronkstraf in Australië kan lei.

Blows het gesê die staat beskik oor ʼn sertifikaat van Australiese owerhede wat bepaal dat die land voldoende bewyse het om Freedendal se vervolging te waarborg. Sy het gesê die konstitusionele hof het vroeër bevind dat só sertifikaat voldoende bevestiging is dat daar bewyse teen die beskuldigde bestaan.

Booth het egter tegniese foute uitgewys in die aansoek. Hy voer aan die lasbrief vir Freedendal se inhegtenisneming voldoen nie aan die vereistes van die uitleweringsooreenkoms tussen die twee lande nie.

Booth wou ook weet waarom Australiese owerhede eers verlede jaar Freedendal se uitlewering versoek het, aangesien die beweerde oortredings al in 1999 plaasgevind het.

Blows het hierop reageer en gesê die kwessies waarna Booth verwys is irrelevant.

Die hof sal na verwagting op 21 September uitspraak lewer.

Freedendal is in Julie 2011 in Port Lincoln, Australië in hegtenis geneem en is vrygelaat op borgtog. Hy het daarna toestemming ontvang om Suid-Afrika te besoek, op voorwaarde dat hy teen 21 November 2011 sou terugkeer. Hy het egter nooit na Australië teruggekeer nie. Hy is uiteindelik in Kaapstad in hegtenis geneem en het tereg gestaan op aanklag van die seksuele mishandeling van agt kinders. Hy het in 2015 skuld beken op die aanklagte en is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis kragtens artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet. Dit beteken dat slegs 10 maande van die vyf jaar direk in die tronk uitgedien moet word en die res onder korrektiewe toesig. Teen die tyd wat hy op parool vrygelaat kon word, het Australiese owerhede versoek dat hy uitgelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

So? ·

So? Laat hy gaan, ongeag, want aan sy slagoffers het hy nie gedink, wie moet nou aan hom dink. Ek kan ook nie verstaan dat ‘n wetsgeleerde so ‘n iemand ook nog kan verdedig?

Cherokee ·

Wetsgeleerdes eet ook; selfs al sluk hulle swaar aan die kos somtyds is dit steeds beter as glad nie sluk.

Toppie ·

Wat soek hy nog hier lewer hom sommer nou uit, Australie laat nie ander lande se kriminele toe nie, hoekom moet ons hom kos gee in ‘n Suid Afrikaanse tronk

Bullseye ·

Pos hom asb! Ons tronke is klaar oorvol! En hy is verseker nie n aanwins vir ons land wat klaar kruppel gaan aan misdaad nie.

Grassie ·

As ek so na die ou se siektetoestande kyk lyk dit asof omtrent alles aan hom wat nog moet werk nou nie meer goed werk nie. Die enjgste probleem is dat dat dit wat nou nie meer moét werk nie, oortyd werk wanneer hy by kinders kom. Ek hoop hulle pos hom terstond terug Australië toe en sorg dat hy nooit weer hierna toe kan kom nie.

Hanna ·

Ek stem. Hy het geen genade vir sy slagoffers gehad nie.
Nou het die slagoffers die ondersteuning van die regstelsel nodig. Hulle mag nie wèèr in die steek gelaat word nie.

Hoekom na Suid Afrika gekom en so wragtig hier ook kinders se lewe kom opmors.
Hy het gevlug en dieselfde hier kom doen.

Sit hom op die eerste vliegtuig terug terwille van sy slagoffers.

Toppie ·

Suid Afrika is ‘n lekker toevlugsoord vir al werkloses en misdadigers van ons buurlande en die hele wereld. Hulle kry tot gratis huise, staats grants en gratis medies terwyl hulle hier hulle misdaad kom voort sit

marous ·

Kan hy nie op ‘n tegniese punt by sy regsverteenwoordiger bly tot die aansoek uitgeklaar is nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.