Kaapstad identifiseer ses koronavirus-brandpunte

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die Stad Kaapstad het ‘n aangepaste benadering tot die koronavirus nodig. (Foto: Stad Kaapstad)

Die Wes-Kaap is Suid-Afrika se Covid-19-episentrum en die Stad Kaapstad het ses koronavirus-brandpunte in die metrogebied geïdentifiseer.

Pres. Cyril Ramaphosa het Kaapstad self Sondagaand as een van die land se koronavirus-brandpunte uitgewys. Die ander is Tshwane, Johannesburg, Ekurhuleni, Ethekwini, Nelson Mandelabaai en Buffalo City. Ander gebiede is die Weskus-, Overberg- en Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap, Chris Hani-distrik in die Oos-Kaap en iLembe-distrik in KwaZulu-Natal.

ʼn Brandpunt is ʼn gebied waar meer as vyf mense per 100 000 mense die siekte opdoen, of waar nuwe infeksies teen ʼn vinnige koers groei.

Teen Dinsdagaand het die bevestigde Covid-19-getalle in Suid-Afrika op 24 264 gestaan en 15 829 (65,2%) hiervan was in die Wes-Kaap.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê ʼn aangepaste benadering is nodig wat die identifisering van verdere brandpunte insluit, asook van mense wat meer vatbaar vir die virussiekte is.

Badroodien sê toetse vir mense met onderliggende siektes en diegene ouer as 55 sal geprioritiseer word omdat hulle heel waarskynlik komplikasies kan ontwikkel en hospitaalsorg benodig. Diegene wat ook voorrang sal geniet, is gesondheidswerkers en mense wat met Covid-19-simptome by hospitale aankom.

“Ons het tevore gesê die meeste mense wat Covid-19 opdoen, sal hulself tuis kan isoleer en nie verdere mediese ingryping benodig nie. Die statistieke van mense wat in hospitale opgeneem is en wat aan die virus beswyk het, dui daarop dat onderliggende toestande teenwoordig was,” het Badroodien gesê.

“Om dié rede konsentreer ons op die kwesbare groepe.”

Hy sê opvoeding, bewusmaking en toepassing in die stad sal verhoog word en daar sal veral op die brandpunte gefokus word.

“Brandpunte is gebiede waar daar vasgestel is gemeenskapsoordrag vind plaas en waar daar ʼn hoë voorkoms van gevalle is.”

Die inligting word deesdae per buurt bekend gemaak.

Die brandpunt-subdistrikte is:

  • Tygerberg (Bellville, Elsiesrivier, Goodwood)
  • Khayelitsha
  • Dunoon
  • Klipfontein (Delft, Delft-Suid, Gugulethu, Nyanga, Manenberg)
  • Imizamu yethu, Philippi
  • Mfuleni

Badroodien sê die gebiede sal dopgehou word en bykomende werkers sal by plekke soos openbare vervoerpunte, supermarkte en klinieke ontplooi word om Covid-19-siftingstoetse te doen en alle kwesbare gevalle vir toetse te verwys. Hulle sal bewusmakingsveldtogte bevorder en sosiale afstandhawing afdwing.

Badroodien sê hoewel die gebiede geïdentifiseer is, kan dit verander en ander buurte geraak word as daar nie by die afsonderingsbepalings gehou word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus2

Jy kan soveel maatreëls instel soos jy wil, maar as jou gemeenskapslede nie dissipline het nie, is jou “maatreëls” so effektief soos ‘n sifdeur aan ‘n duikboot. Anderkant vd munt: as jou regering so hopeloos soos die ANC is, help dissipline ook niks want honger mense gaan strate toe om te probeer oorleef. Dis een bose kringloop wat Dlamini Zuma uitstekend pas. Hoe langer die “pandemie” aan die gang gehou kan word, hoe stewiger het sy die leisels in die hande.

Jacques

Dis tipies net in gebiede waar die “massas” bly. My fabriek is in Kilarney Gardens net langs Dunoon. Daar is geen beheer of gesag vir “lockdown” nie! Hulle loop rond en gaan met hul lewens aan soos normaal. Dan en wan sien ek n polisie bakkie met beamptes wat onwettige los sigarette by ou op hoek koop en rook. Hoe vinniger die arme Dlamini Zuma besef niks wat sy se of doen gaan die virus in townships of brand punte soos hul dit noem kan keer nie hoe beter vir almal en ekonomie. Laat mense rook en drink hul doen… Lees meer »

Cheetha

Klink vir my soos “our people” sê plekke die. Ek dag dis net my mense wat die siekte kry? Juju het ook so gesê