Kaapstad in die duister ná substasie brand

Die brand het om die Acacia-substasie uitgebreek. (Foto: Geordin Hill-Lewis/Twitter)

Dele van Kaapstad se middestad en omliggende woonbuurte is sedert Maandagaand sonder krag nadat ʼn aantal hoogspanningskabels oënskynlik deur ʼn brand beskadig is.

ʼn Brand wat by die Acacia-substasie, een van die stad se hooftoevoerlyne, uitgebreek het, het ook kragtoevoerprobleme na Montagu Gardens en Eskom se Tafelbaai-substasie veroorsaak.

Gevolglik is gebiede in die middestad, asook woonbuurte soos Vredehoek, Oranjezicht, Observatory, Woodstock, Tamboerskloof en Seepunt Maandag teen 19:15 sonder elektrisiteit gelaat.

Spanne het deur die nag aan die beskadigde kabels probeer werk, maar die brand het glo hul toegang daartoe gehinder.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar ʼn ondersoek is intussen van stapel gestuur om die omvang van die skade te bepaal.

(Foto: Geordin Hill-Lewis/Twitter)

Beverley van Reenen, burgermeesterskomiteelid vir energie, het intussen gesê dat spanne hard werk om kragtoevoer na al die gebiede wat sonder krag is te herstel.

“Die Stad is besig om kragtoevoer na die Woodstock-area te herlei en die herinstallering van die beskadigde kabels is goed op dreef. Kragtoevoer na Woodstock en die ooste van die middestad sal na verwagting binnekort in fases herstel word,” sê sy.

“Intussen sal die Roggebaai-gasturbines aangeskakel word om te verseker dat sakeondernemings in die middestad nie ernstig deur hierdie kragonderbreking geraak word nie.”

Volgens Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, moet daar nog baie werk aan die ander toevoerlyn gedoen word wat van Acacia na Tafelbaai – via Montague Gardens – loop wat gebiede soos Kampsbaai en woonbuurte langs die kus van elektrisiteit verskaf.

“Die Stad werk saam met Eskom om krag na die Atlantiese kusstrook te herstel, aangesien die skade ook Eskom se infrastruktuur geraak het,” sê hy.

Dit is nog nie bevestig wanneer die res van die geraakte gebiede weer elektrisiteit sal hê nie, maar die Stad Kaapstad hoop om alle herstelwerk teen die einde van die dag af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.