Kaapstad kry wéér toekenning as toeristestad

Kaapstad. (Foto: Sharaan Muruvan / Unsplash)

Kaapstad is vir die tweede keer agtereenvolgend aangewys as Afrika se voorste toeristestad deur die World Travel Awards.

Dié toekennings is die goue standaard vir die bedryf en word internasionaal erken. “Dit volg ná ʼn rits soortgelyke erkennings soos Condé Nast Travel-lesers wat Kaapstad as die negende beste stad in die wêreld aangewys het,” sê James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei. “Die Verenigde Koninkryk se Telegraph-koerant het Kaapstad aangewys as die derde beste internasionale stad en volgens die Halal Travel Awards (2022) is die stad die Mees Belowende Moslemvriendelike Bestemming van die Jaar.”

Volgens Vos is dié toekennings erkenning vir die onvermoeide pogings van die stad en sy vennote, insluitend die amptelike bestemmingsbemarkingsorganisasie, Kaapstad Toerisme deur slim veldtogte soos Find Your Freedom.

“Dié interaktiewe konsep laat gebruikers toe om ʼn avatar te kies – ʼn Fearless Foodie, Nature Warrior of Urban Adventurer – vir ʼn virtuele smakie van Kaapstad. Die interaktiewe reiservaring is enig in sy soort vir ʼn bestemmingsbemarkingsorganisasie en het ten doel om al hoe meer toeriste te lok en unieke Kaapstad-ervarings uit te lig. Terselfdertyd help ons plaaslike ondernemings om toeriste te lok deur vir hulle die inligting en vaardighede te gee om hul bedrywighede te vorm.”

Kaapstad verwag ʼn besige toeristeseisoen met 184 internasionale vlugte per week tussen November en Desember. Dit sal tussen Januarie en Maart 2023 na 191 vlugte per week verhoog. “Dit kom neer op ongeveer 1,56 miljoen tweerigting vlugte tussen November 2022 en Maart 2023 en inkomste van ongeveer R7,9 miljard uit toerisme. Deur toerisme help ons gemeenskappe om werksgeleenthede te skep terwyl ons die ekonomie op ʼn volhoubare manier help groei.”

Burgemeesterskomiteelid James Vos en uitvoerende hoof van Kaapstad-toerisme Enver Duminy by lede van die Isibane Africa-koor van Khayelitsha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Casper ·

Kyk eerstens wie is in beheer in Kaapstad en kyk hoe goed gaan dit daar en dan kyk jy na Durban onder ANC bewind en kyk hoe sleg gaan dit daar.Hulle toeristegetalle het afgeneem en in die Kaap neem dit toe.Ek sou wat wou gee om die Kaap te besoek en die blommeprag in Namakwaland maar my finansies laat dit nie toe nie.

Bart-Man ·

Terwyl die res van Suid-Afrika kompeteer met Afrika. Spruit daar uit die donker n wêreldklas stad, Kaapstad. Baie geluk. Ek wens ek kon ook daar bly.

Manie ·

Dis nie alles maanskyn en rose hier nie, die straatbewoners slaan deesdae orals kamp op en dis ‘n vieslike onooglike gemors. Inbrake neem ook toe. Wat mens hoor en wat mens sien verskil nogal.

Delia ·

Gaan kyk hoe verrys tente op sypaadjies, in die middedorpe and nothing happens…

SjN ·

Geluk en dankie aan almal betrokke, hoop die kaders kyk en leer.

JohanR ·

Hou die toeriste maar weg van die tent dorpe, en die urine en poe! Maak seker hulle kyk net na die berg.

Delia ·

Lees die artikel oor Kaapstad op die engelse forum. Moordsyfer van die hoogste in die wêreld. Dwelms praat ek nie van nie. Bendes….
Vir die paar elite wat dit kan bekostig om vir hulle Utopia te koop in leefstyl areas met gholfbane waar hulle nie nodig het om die armoede te aanskou nie…ja, vir hulle is die Kaap die beste. Maar vir die duisende ander gaan dit hier soos vir die res in SA.
Vrees vir misdaad, geen water, gebarste pype, kragonderbrekings ens ens.
En moenie my stenig, dis my opinie

Tokkel ·

Dankie DA en Kaapstad se mense wat hier bly…….ons probeer als instand hou. Gelukkig probeer ons munisipaliteite en die paar polisie manne wat deur die ANC aangestel is die ford hou. Well done!

Shakespeare ·

Hoe dan anders. DA rule !! Die vet korrupte onbevoegde vervloekte ANC/EFF vingertjies is lam gelê.

Johan ·

Dan gaan dit bitterlik sleg in Afrika, was die beoordelaars by ander lande ook, want ek glo dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.