Kaapstad maak gereed vir storm

Foto: Pixabay

Die Stad Kaapstad het inwoners Donderdag gewaarsku dat die Suid-Afrikaanse Weerdiens ʼn waarskuwing uitgereik het vir stormagtige weerstoestande wat op pad is.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, het gesê die stad se rampbestuursentrum is in kennis gestel dat stormsterk winde, onstuimige seetoestande en moontlike vloede van Donderdagaand kan voorkom.

Volgens Smith word wind van tussen 60 en 75 km/h tussen Tafelbaai en Kaap Agulhas verwag wat van Donderdagaand tot Vrydagoggend sal voortduur. Seedeinings van ongeveer 6 m word Donderdagnag verwag, maar sal na verwagting teen Vrydagmiddag bedaar.

Daar is ook ʼn moontlikheid van oorstromings in gedeeltes van die Kaapse metropool en die suidelike gedeeltes van die Kaapse wynlande vir vroeg Vrydagoggend voorspel.

Smith het gesê die rampbestuursentrum is gereed om enige noodgevalle wat deur die verwagte weerstoestande veroorsaak word te hanteer. “Ons doen ʼn beroep op inwoners om enige weerverwante noodgevalle by die stad se openbare noodkommunikasiesentrum aan te meld deur 021 480 7700 van ʼn selfoon te skakel of 107 van ʼn landlyn,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rooiman ·

Ons is nuuskierig! Enige nuus oor die storm? Ek dink Kaapstad sal nou enige reën verwelkom, self oorstromings!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.