Kaapstad maan teen misdadigheid tydens Guy Fawkes-vieringe

(Foto: pixabay)

Die Stad Kaapstad sê hy staal hom vir nog ʼn Guy Fawkes-dag, ʼn jaarlikse tradisie wat die afgelope paar jaar gekenmerk word deur voorvalle van geweld en intimidasie deur skares jongmense.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die stad se openbare noodkommunikasiesentrums moes op 5 November verlede jaar byna 350 oproepe op een dag hanteer – en die meeste daarvan het verband gehou met die onwettige afvuur van vuurwerk.

Die stad het ook klagtes ontvang oor voertuie wat met klippe bestook is, mense wat aangerand is en vuurwerk waarop beslag gelê is, wat weer verkoop is.

Smith sê die stad het die afgelope 72 uur reeds 18 klagtes ontvang oor die onwettige verkoop of afvuur van vuurwerk.

“Guy Fawkes-misdade word gepleeg deur ʼn minderheid wat wetsgehoorsame burgers onder die voorwendsel van sogenaamde pret, gyselaar hou,” het hy gesê.

“Ek het dit in die verlede baie duidelik gemaak dat hierdie verouderde gebruik gestaak moet word. Benewens die onoordeelkundige afvuur van vuurwerk wat rus verstoor en diere en mense terroriseer, kan die sinnelose geweld teen motoriste en voetgangers bloot nie goedgekeur word nie,” het Smith gesê.

Smith sê hy kan net hoop dat mense vanjaar hul houding en gedrag verander.

“Ons beamptes gaan gebiede patrolleer wat oor die afgelope paar jaar ʼn reputasie as brandpunte opgebou het in ʼn poging om die aanvalle te ontmoedig. Dit maak egter nie sin dat wetstoepassingshulpbronne hiervoor gebruik moet word terwyl ander meer dringende sake aandag moet geniet nie.”

Smith het mense ook daarop gewys dat vuurwerk net met die nodige permit afgevuur mag word.

“Reën word vir Woensdag voorspel en hopelik dien dit as ʼn afskrikmiddel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linx ·

Dit is geensins n plesier vir diegene wat hondekinders het nie dit is die slegste aanwendels wat mense al ooit kon aanleer,veral op die kaapse vlakte,as j weet hoeveel honde rondloop sonder eienaars hier sou jy duidlik van mening verander,as my honde wat nog n huis en n eienaar het wat omsien na hul welsyn,so paranoid is op daardie dag,wat nog van daardie wat op straat bly,my Hart gaan uit na hulle vir more.

Dries ·

Skaf dit af. Guy Fawkes het absoluut niks met ons land te doen nie, net soos Halloween, Thanksgiving, “Black Friday” en St Patrick’s Day. Geldmaak foefies, en in die geval van Guy Fawkes word diere net geterroriseer, EN daar is dreigende brand-gevare.

Jaco ·

Die DA is nou nes die ou Nasionale Party. Hulle het ook vir jare lank Guy Fawkes vierings met vuurwerke verbied. Ek het regtig iets beter van die “non-racial” DA verwag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.