Kaapstad mag steeds nie krag onafhanklik aankoop

(Argieffoto: Severin D./Unsplash)

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag die Stad Kaapstad se aansoek om goedkeuring om sy eie elektrisiteit by onafhanklike kragprodusente aan te koop, onbepaald uitgestel en na die regering terugverwys.

Die aansoek het betrekking op die metro se versoek aan Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) om hul eie krag by onafhanklike kragprodusente aan te koop. Dié aansoek is vyf jaar gelede reeds ingedien te midde van voortdurende kragonderbrekings in Kaapstad.

Die Pretoriase hooggeregshof het egter nou die geskil tussen die metro, Mantashe en Nersa vir interregeringsgeskilbeslegting ingevolge artikel 41 (3) van die Grondwet verwys.

Kevin Mileham, die DA se skaduminister oor minerale hulpbronne en energie, meen dié besluit is teleurstellend omdat dit die Stad Kaapstad se vermoë om elektrisiteit aan sy inwoners te voorsien net verder vertraag.

“Dit blyk verder dat die uitspraak nie in ag neem hoe lank hierdie aangeleentheid al uitstaande is, en dat die minister en Nersa geen poging aanwend om dit op te los nie.”

Volgens Mileham kan Mantashe te eniger tyd oor die saak beslis deur bloot op die Stad se aansoek te reageer.

Maroela Media het vroeër berig die Wet op die Regulering van Elektrisiteit laat die minister van minerale hulpbronne en energie toe om die hoeveelheid energie, asook die soort energiebronne wat vir nuwe opwekking gebruik kan word, voor te skryf.

Die Stad voer in die aansoek aan dit is sy grondwetlike plig om krag aan sy verbruikers te verskaf en dat dié verbruikers toegelaat moet word om te kies watter soort krag hulle wil gebruik.

“Die DA sal voortgaan om te druk vir die goedkeuring van die wetsontwerp op onafhanklike elektrisiteitsbestuur, wat metropolitaanse munisipaliteite soos die Stad Kaapstad wat oor die finansiële en tegniese vermoë beskik, in staat stel om elektrisiteit van wie ook al aan te koop sonder om [goedkeuring] te vereis.

“Dit is onaanvaarbaar dat onnodige burokrasie en klein magspolitiek dienslewering deur ʼn bekwame plaaslike regering belemmer,” het Mileham gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adeline ·

Wel wil net graag weer wanneer die voos vrot korrupte anc ministers nou eintlik enige iets gedoen het of gemaak het om die land te bou ipv om dit totaal af te breek en ‘n ashoop van te maak?

Pieter ·

Die ANC kommuniste is te slim vir ons blankes hulle weet ons blaf net en byt nie sterkte ons het maar net nie ore nie. Als val uit mekaar ons kinders kannie skool gaan nie ons verloor ons werk boere word uit gemoor en nog steeds doen ons niks.

Lukas ·

Dit lyk as of die regering doelbewus eie inisiatief die grond in boor en Eskom beskerm ten koste van die ekonomie. Dis alweer een bewys van kommunistiese ideologie wat die basis is van beslissings vorming.
Hoe kom gaan die munisipaliteit nie vir hulle eie doeleindes krag produseer.Ek het gesien dat hulle nu gas gaan opvang by die Vullis dump in Klein Vissershok vir energie opwekking.

Marthie ·

Hulle gaan nooit Kaapstad se bydrae tot Eskom afskryf nie.

Isabella ·

Regering gee ni om ons mut dt nou begin verstaan hul GEE NIE OM

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.