Kaapstad-man dalk reeksmoordenaar

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

ʼn Man van Gugulethu in Kaapstad wat in hegtenis geneem is in verband met verskeie moord- en verkragtingsake in die Kaapse Skiereiland oor die afgelope paar maande, het Maandag in die Goodwood-landdroshof verskyn.

“Die verdagte het op ʼn verkragtingsaanklag verskyn en ons is besig om verdere aanklagte te formuleer,” het kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, gesê.

Hy het gesê die verdagte moet weer volgende week in die hof verskyn.

Die man is Woensdagaand in hegtenis geneem in verband met verskeie moord- en verkragtingsake. Hy bly in aanhouding.

Van Wyk wou nie kommentaar lewer of die verdagte ʼn vermeende reeksmoordenaar en -verkragter is nie.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het op 21 Desember gesê die ontbinde liggame van vyf vroue is oor ʼn tydperk van tien maande naby die Century City- en Akasia-treinstasie opgespoor.

“Al die vroue was naak en hul hande was agter hul rûe vasgebind,” het De Lille destyds gesê. Sy het gesê die polisie se ondersoek was in ʼn vroeë stadium en dat hulle die moontlikheid van ʼn reeksmoordenaar ondersoek.

De Lille het ʼn beloning van R50 000 aangebied vir inligting wat tot die skuldige se inhegtenisname kan lei. Die polisie het die moorde bevestig, maar wou nie bevestig of dit met mekaar verband hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.