Kaapstad-man se angsnag ná hy taxidiens gebruik

Argieffoto: http://orig10.deviantart.net/

Argieffoto: http://orig10.deviantart.net/

ʼn 37-jarige man van Kaapstad is in ʼn ernstige toestand in die waakeenheid van ʼn hospitaal nadat hy ontvoer is toe hy Vrydagaand van ʼn ongemerkte taxi gebruik gemaak het.

Women on Wheels berig die voorval het omstreeks 01:00 plaasgevind. Op versoek van die familie kan Maroela Media nie die man se naam bekend maak nie.

Die man het glo ʼn kroeg in Kloofstraat verlaat en een van die talle ongemerkte taxi’s buite die kroeg gebruik. Hy het die bestuurder sy adres gegee en hulle het op ʼn prys ooreengekom.

Die bestuurder het ongeveer 500 meter verder egter in ʼn systraat ingedraai en twee mans het weerskante van die man in die motor gespring. Hulle het die man se geld en foon geëis. Die man het net genoeg geld by hom gehad om die taxibestuurder te betaal, maar het die kontant, sy bankkaart en sy foon aan hulle oorhandig.

Die rowers het daarna uit die stad gery op die N1. Die man het glo kalm gebly, sy bankkaart se PIN-nommer vir hulle gegee en deurentyd gevra of hulle hom sal aflaai. By die afrit na Canal Walk het die rowers gestop en die man uit die motor gelaat voordat hulle weggejaag het.

Die man het in die rigting van Kaapstad begin stap en desperaat probeer om een van die verbygaande motors te stop uit vrees dat die rowers moontlik sou terugkom. Terwyl hy tevergeefs probeer het om een van die motoriste se aandag te trek, is hy deur ʼn motor raakgery. Die bestuurder het weggejaag en hom bloot langs die pad gelos.

Beide sy bene is gebreek en hy het kort-kort sy bewussyn verloor. Ongeveer ʼn uur later het polisiebeamptes op patrollie op hom afgekom.

Die man is tans in die waakeenheid van die hospitaal nadat dokters sy bene moes opereer. Volgens sy familie het hy geen kopbeserings of orgaanskade opgedoen nie, maar lê daar nog ʼn lang herstelpad vir hom voor. Die familie verwag egter dat hy ten volle sal herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa ·

Goeie genade. Is dit nou die nuutste. “Taxis” wat buite kuierplekke wag vir slagoffers. Wat sal die gemors nog uitdink?

Dave ·

My verbasing is dat iemand dit waag om daarvan gebruik te maak.

CHRISTA ·

My grootste verbasing is dat niemand stilgehou het om hom te help nie!! Die EEN keer wat ek in Kaapstad was het ek ALMAL so behulpsaam gevind (dit is wel jarre gelede)!!

Dave ·

Christa, ek het jàrre gelede ‘n man gesien lê en slaap op die teer met sy kop op ‘n tas! Op die ryvlak! Ek het stilgehou langs hom en getoet. Hy het nie beweeg nie. Die omgewing gekyk en gesien dat enkele tree verder is daar ‘n gat met ‘n stormwaterpyp wat onder die pad deur loop. Dit was middernag en my gesin was saam met my. Dit was tussen dorpe met kilometres na die naaste dorp. Ek het hom net daar gelos en die polisie gaan haal. Saam met hulle terug gery en toe ons weer daar kom, was hy weg. Baie weg.

M ·

Ek was onlangs in die Kaap. Glo my, hulle is glad nie so vriendelik en hulpvaardig nie. Eerder arrogant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.