ʼn Man van Gugulethu in Kaapstad is in hegtenis geneem in verband met verskeie moord- en verkragtingsake in die Kaapse Skiereiland oor die afgelope paar maande.
Lt.kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die man is Woensdagaand in hegtenis geneem en gaan na verwagting Maandag in die hof verskyn. Dit is nog nie duidelik in watter hof hy gaan verskyn nie.
“Inligting oor die verdagte se betrokkenheid by die misdade word steeds ondersoek. Verdere besonderhede oor die saak kan nie in hierdie stadium bekend gemaak word nie,” het Traut gesê.