Kaapstad-marathon: Polisie verruil uniforms vir drafskoene

(Foto: Verskaf)

Altesaam 235 polisiebeamptes van oor die hele land verruil hierdie naweek hul blou uniforms vir drafuitrustings wanneer hulle aan die Sanlam Kaapstad-marathon van 42,2 km en gepaardgaande wedlope in die stad deelneem.

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, en Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile, het 52 beamptes van verskeie polisiestasies in die land Saterdag gelei terwyl hulle aan die 5 km- en 10 km-Peace Run-byeenkomste deelgeneem het.

Die lede, geklee in ʼn verskeidenheid van helderblou T-hemde, sweetpakbroeke, kortbroeke, drafskoene en kepse, het Saterdag net voor 06:00 by die DHL-stadion hul drafstap begin. Sommige het verkies om die 10 km te doen, terwyl ander net die 5 km kon aanpak.

Masemola sê deelname aan marathons is nog ʼn manier om fiksheid onder polisiebeamptes te bevorder en aan te moedig.

“Ons gaan voort om welstand- en fiksheidsprogramme aan te moedig en in te stel om te verseker dat polisiebeamptes altyd fiks genoeg is om hul werk te doen,” het Masemola gesê.

Volgens brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het die polisie 21 sportkodes wat atletiek, rugby en sokker insluit waar die organisasie lede aanmoedig om fiks en gesond te bly. Daarbenewens het die polisiediens ʼn fiksheidsbeleid wat verseker dat operasionele lede gereeld fiksheidstoetse en assesserings ondergaan.

Patekile sê polisielede is slaggereed om die marathon Saterdag te monitor om die veiligheid van deelnemers en ondersteuners te verseker.

“Ons lede is reeds ontplooi en polisiesigbaarheid is verhoog. Ons is hier om te verseker dat die wedloop in ʼn veilige omgewing plaasvind,” het lt.genl Patekile gesê.

Die groot marathon vind Sondag plaas. Die rolstoelatlete het om 06:10 weggespring en die elite-atlete om 06:15. Die res van die atlete het om 06:17 weggespring. Die laaste afsnypunt is om 13:45.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.