Kaapstad-metro die top-keuse in SA vir sakelui

Kaapstad. Foto: SkyPixels/Wikipedia

Die Stad Kaapstad is in die Wêreldbank se jongste navorsingsverslag aangewys as die no. 1-munisipaliteit wanneer dit kom by die gemak van sake doen in Suid-Afrika.

Die Wêreldbank het 189 metro’s in ander ekonomieë insluitend Suid-Afrika se nege metro-munisipaliteite geassesseer.

Kaapstad beklee die eerste plek in die ranglys van die agt top- Suid-Afrikaanse metro’s wat in twee van die bank se vier aanduiders gemeet is.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het gesê die stad se hoë rang in terme van die voorsiening van elektrisiteit plaas Kaapstad in die top-25% van stadsekonomieë ter wêreld. Dit neem volgens haar 91 dae om ʼn verbruiker aan die kragnetwerk te verbind – veel vinniger as in Tshwane (110 dae) of Johannesburg (109 dae).

Kaapstad is ook eerste gelys in terme van die afhandeling van konstruksie-permitte. De Lille sê die bank se bevindings kom kort op die hakke van die onlangse verslag van PriceWaterhouseCoopers (PwC) wat Kaapstad as die no. 1-geleentheidstad in Afrika aangewys het. Dié verslag het Kaapstad sesde onder die middelinkomste stede gelys naas Beijing, Kuala Lumpur, Moskou, Sjanghai en Mexiko Stad.

De Lille meen dié resultate dien as bewys van die talle insette wat hulle in die bou van ʼn geleentheidstad ingeploeg het. Sy het bygevoeg hoe tevrede sy is met die vordering wat die stad gemaak het.

Volgens haar het sy en die stad se onderneming- en beleggingsdepartement twee jaar gelede ná die bekendstelling van die bank se vorige verslag bymekaargekom en ʼn plan beraam om die stad se plek op die ranglys te verbeter.

“Ons het ʼn lysie saamgestel van dinge wat ons weet plaaslike en internasionale beleggers na kyk wanneer hulle besluit waar om te belê.”

Sy het bygevoeg top-prioriteite vir beleggers is onder meer betroubare infrastruktuur, vinnige internet en brandstofsekerheid.

“Ons het vir onsself ʼn doelwit gestel om 20% van Kaapstad se energievoorraad uit hernubare energiebronne te verkry teen 2020. Ons kan nie tevrede wees deur no. 1 in Suid-Afrika of Afrika te wees nie. Ons kompeteer in ʼn globale ekonomie en moet weet die wêreld skuld ons niks.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerhard ·

Darem positiewe nuus vir ‘n slag. Sê wat jy wil, maar die munisipale bestuur is ligjare beter as die van ander metros. Ek bedryf ondernemings in beide Kaapstad en Johannesburg, en kan sonder skroom sê dat infrastruktuur HEELWAT beter is in die Kaap. Die Gauteng metro is besig om uitmekaar te val, g’n wonder mense vlug op strepe.

jaco ·

waarom skei die weskaap nie af vanaf die res van SA nie? Dit behoort n heel suksesvolle staat op sy eie te wees.

L ·

Die vyf lande bo SA se Kaapstad, is nie juis lande om oor huis toe te skryf nie. Sou graag ander lande se name wou sien. Dalk sal die “trots” dan beter by n mens inskop. Hoe se mens nou: well done met n skewe bo-lippie?

GM ·

Ek hou van : “Ons moet weet die wêreld skuld ons niks”.
As alle landsburgers (en al die onwettige aliens), wat net ‘demand’, maar net daardie belangrike puntjie ter harte kon neem…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.