Kaapstad: MyCiti-busstaking duur voort

Foto: http://myciti.org.za/

Die MyCiti-busdiens in Kaapstad is steeds opgeskort hangende verdere kennisgewing en pendelaars moet swaar verkeer op paaie verwag. Só het die stad Sondag gewaarsku.

“Die landwye staking wat die Suid-Afrikaanse busbedryf beïnvloed, duur voort,” het Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, gesê.

Dit is onduidelik wanneer die staking, wat weens ʼn dooiepunt in onderhandelings ontstaan het, sal eindig.

Herron het gesê dié wat van padvervoer gebruik maak, moet swaarder verkeer en langer reistye verwag solank die staking aanhou, veral aan die begin van ʼn werkweek.

MyCiti-pendelaars is versoek om vir eers ander reëlings te tref. Die stad het onderneem om hulle sover moontlik met bykomende nuus oor die situasie op die hoogte te hou.

Mense met maandkaartjies se kaartduur sal verleng word vir die getal dae wat die staking voortsleep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.