Kaapstad: Nóg omstredenheid oor waterverkope

Argieffoto

Ian Neilson, adjunkburgemeester van Kaapstad, het Woensdag gesê die Stad Kaapstad sal alles in sy vermoë doen om die onwettige handel en verkoop van varswater in dié stad ʼn nekslag toe te dien.

Neilson het tydens ʼn mediakonferensie gesê verskeie besighede wat glo water verkoop, het sedert die stad se waterkrisis oral in Kaapstad opgeduik, en verkoop in baie gevalle munisipale water wat die winkels as gesuiwerde water voorhou.

Dit volg nadat die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheid verlede week sy kommer oor “gewetenlose handelaars” uitgespreek het wat glo die prys van gebottelde water verhoog het om na bewering te baat by die droogtekrisis wat die Wes-Kaap in die gesig staar.

Neilson het Woensdag gesê talle van die besighede het nié lisensies om wel water te verkoop nie, en dat dit geldmaakfoefies is terwyl Dag Zero die stad in die gesig staar.

Neilson het inwoners van Kaapstad aangeraai om nie 5 liter-waterbottels by die honderde aan te koop by sogenaamde waterbesighede nie. Hy het dié verskynsel as “paniekkoop” bestempel – volgens hom die gevolg van “menslike vrees”.

“Ons tree op teen hierdie besighede – hulle moet weet jy kan nie water verkoop as jy nie gelisensieer is nie,” het hy gesê.

Neilson het na Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, gekap en gesê sy moes reeds in November verlede jaar die strenger 6B-waterbeperkings en -tariewe ingestel het.

De Lille is van die bestuur van die waterkrisis in die stad geskors te midde van omstredenheid rondom haar leierskap in die Kaapstad-metro.

Neilson het gesê die departement van water en sanitasie het verlede jaar op 174, 4 miljoen kubieke liter water vir die stad ooreengekom en dat daar later die week weer gesprekke sal wees om te verseker dat die stad steeds dieselfde watervoorraad ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Rabes ·

Watter lisensie is dan ewe skielik nodig om water te verkoop. Alle winkels en kafees wat koeldranke verkoop doen ook so met water. Ek vemoed iemand daar bo het ‘n vinger in die pie.

Francois Joubert ·

Om water te verkoop waarvoor jy ‘n lisensie moet he beteken jy moet die produk skep. So jy het boorgatwater of jy neem munisipale water en jy sit dit in ‘n bottel. Hiervoor moet jy toestemming (lisensie) he. Die kafee verkoop die produk aan jou wat hul van hierdie mense gekoop het. Ek vermoed wel dat al hoe meer mense (nie lisensiehouers) ewe skielik water verkoop aan bv kafees en op ‘n stadium gaan ook die kafees vasgevat word.

jaco ·

daars in nie van nou af eers gewone kraanwater in hierdie bottels nie. dit kom al ‘n lang pad. ek kon nog nooit ‘n verskil tussen die 2 proe nie. dis net besighede wat staatmaak op mense te gullibility en mind over matter en psogo-somatiese reaksies.

Heinrich van Zyl ·

Neilson Neilson Neilson (sug…)

Die paniekkoop is nie die gevolg van menslike vrees nie, dis die gevolg van ‘n nuttelose provinsiale en nasionale regering. Waarvan jy deel is.

Let daarop dat ek die woord “regering” baie losweg gebruik.

Pieter ·

Dis nie paniek nie. Nog nooit gehoor van vooruitbeplanning met die dag zero, iets wat mnr Neilsen blykbaar nie verstaan nie. As die regering op alle vlakke dit verstaan het, was die krisis bestuurbaar.

Catherine ·

Instead of wasting your time with nonsense, start doing something. The chap who wanted to help is now back in Saudi Arabia putting up another desalination plant!

Pietie ·

Dit sal veel beter werk as mnr Neilson en sy raad meer ruimte gee vir privaatinisiatief by beide waterprojekte en die verspreiding van water. Tipiese beheerobsessie terwyl ons nog steeds wag om te hoor van waar die sg waterpunte beplan word. Erken maar liewer jul het nie ‘n “clue” nie. Wat ons nodig het is fasiliteting van waterverspreiding, nie onhaalbare planne. Koöpteer liewer die privaatsektor as om hulle te dreig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.