Kaapstad ondervind drastiese toename in diarree

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Mediclinic Suider-Afrika/Facebook)

Hoewel die tydperk tussen November en Mei gewoonlik met ʼn toename in diarreegevalle gepaardgaan, het Kaapstad vanjaar ʼn 70%-toename ondervind in kinders wat met diarree by klinieke aanmeld, teenoor dieselfde tyd verlede jaar.

“Die warm weerstoestande het veral gelei tot ʼn merkbare toename in die aantal kinders met braking, diarree en dehidrasie (ontwatering) wat na gesondheidsinstellings gebring word,” het raadslid Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid van gemeenskapsdienste en gesondheid, Donderdag gesê.

In Januarie is 2 908 gevalle van diarree in die stad aangemeld, teenoor 1 710 gevalle verlede jaar. Die stad monitor veral gevalle van diarree, longontsteking en wanvoeding, aangesien dit kinders se lewe kan eis indien dit nie dadelik behandel word nie.

“Ons is nog nie eens halfpad deur die seisoen nie en dié syfers is reeds kommerwekkend,” sê Ross.

Luidens ʼn verklaring wat die stad Donderdag uitgereik het, kan diarree deur ongewaste hande versprei word. “Kos bederf ook gouer in warm weer, wat diarree en later ontwatering kan veroorsaak. Daarom is dit belangrik om kos behoorlik te bewaar en voor te berei, asook om jou hande met seep en water te was nadat jy by die toilet was.”

Ross het ouers ook gemaan om op die uitkyk te wees vir simptome wat met diarree gepaardgaan en dadelik mediese hulp te kry indien hulle vermoed dat hul kinders dié siekte onder lede het. Sy wys daarop dat veral babas baie vinnig dehidreer (ontwater) en daarom spoedig hulp moet kry indien hul magies loop.

Tekens dat ʼn kind dehidreer, sluit in:

  • Die kind weier om vloeistof of borsmelk in te neem.
  • Die kind gooi vloeistof op nadat hy gedrink het.
  • Daar is bloed in die kind se stoelgang.

Volgens Ross is die stad se drinkwater van aanvaarbare gehalte.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Drink jy stads water uit ‘n kraan of koop jy water medame ?

Hennie

En rowers by kruisings…wonder of dit verband hou met mekaar?

Henri

2908 gevalle in die hele Januarie? Ernstig? Is dít nuuswaardig? Hoeveel mense leef in die groter Kaapstad? My Oupa sou nou gesê het dis ‘n pot vol s….. bollie.

B

Ja, ons weet hier is ‘n ‘maag kiem’ wat die rondte doen maar moet asseblief nie vir ons se dis asgevolg van vuil hande nie. Ons kinders se hande word elke 30 minute gesantize. Dis seker ook net toeval dat kleuterskole en huishoudings wat bottel en ketel water gebruik beter doen as die wat kraan water gebruik. Regtig waar.

Anel

Liggame nie meer gewoond aan kieme nie. Moet mos elke 2 sekondes hande was en maskers dra. Gewag vir dit!!!