Kaapstad ‘optimisties’ oor min Covid-19-gevalle

Khayalitsha-veldhospitaal word gesluit (Foto: Alan Winde/Facebook)

Die Stad Kaapstad sê hy is versigtig optimisties dat die aantal Covid-19-infeksies in dié stad aan’t afneem is. Teen Maandag is net 123 nuwe infeksies in die hele Wes-Kaap aangemeld, wat aansienlik minder is as die daaglikse aantal nuwe infeksies wat aan die begin van die tweede golf aangeteken is. Die getal aktiewe Covid-19-gevalle in Kaapstad het Maandag op 5 257 gestaan.

Volgens Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, is die afname ’n gevolg van die inwoners se volgehoue nakoming van die nodige gesondheidsprotokolle.

“Hoewel dit goeie nuus is, wil ons inwoners aanmoedig om voortdurend waaksaam te wees en al die nodige Covid-19-regulasies steeds getrou na te kom, aangesien daar die moontlikheid is dat ʼn derde vlaag van infeksies in Mei of Junie kan kop uitsteek,” het Badroodien gesê.

Kaapstad het erg onder die virus deurgeloop met meer as 170 000 inwoners wat sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie positief vir die virus getoets het. Altesaam 6 700 inwoners van Kaapstad het weens die virus gesterf.

Tot op hede het meer as 600 werknemers van die stad se departement van gesondheid positief vir die virus getoets. Vyf van dié lede is dood.

Volgens die stad het die aantal begrafnisse in die stad ook die afgelope week afgeneem. Altesaam 380 begrafnisse is aangemeld, waarvan 31 Covid-19- verwante sterftes was. In Januarie het 613 verassings plaasgevind, waarvan 20% Covid-19-sterftes was.

Badroodien sê die stad beoog nou om saam met die Wes-Kaapse provinsiale regering te werk om ʼn effektiewe inentingsprogram te lewer.

“Die eerste fase van die program sal op ons gesondheidswerkers fokus. Hulle is nie net op die voorgrond van die pandemie nie, maar het ook volgehoue toewyding getoon aan die gemeenskappe wat hulle bedien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Wat is die infeksiesyfer oor die hele Wes Kaap.Duidelik het die Wes Kaap gebeurlikheidsplanne in plek wat werk.

Jaco

Die DA in die Wes-Kaap moet nou net nie weer begin aanmekaar toets toets toets vir corona nie. Die gevolg gaan nie ‘n “mooi so, julle help ons” van die ANC af wees nie, maar eerder “dié wit rassiste probeer aanmekaar, selfs met Corona toetse, wys dat hulle beter as die ANC is, so kom ons straf hulle deur die Wes-Kaap extra in te perk”.

Pietertjie

Ek wonder wat was die hoogste besetting-syfer van Khayelitsha veldhospitaal: alles lyk nog so splinternuut…