Kaapstad pleit vir verantwoordelike Nuwejaarsvieringe

Kaapstad het mense gevra om die nuwe jaar verantwoordelik in te lui. (Foto: Marco Longari/AFP)

Die Stad Kaapstad sê die kombinasie van ʼn enorme styging in Covid-19-gevalle en strenger afsonderingsregulasies gaan dié Nuwejaar veel groter waaksaamheid benodig.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die Moederstad gaan die nuwe jaar begroet teen die agtergrond van aangepaste vlak 3-afsonderingsregulasies. Dit beteken ʼn aandklokreël, ʼn verbod op die verkoop en vervoer van alkohol, die sluiting van strande en talle ander ontspanningsfasiliteite, geen sosiale byeenkomste nie en ʼn ernstige pleidooi om die kurwe van infeksies te help afplat.

“Ons moes vanjaar talle van ons gebruike opskort – nie net vir ons veiligheid nie, maar ook vir dié van ons geliefdes. Dit is ʼn klein prys om te betaal wanneer jy dink aan die verwoesting wat die virus onder soveel gesinne gesaai het.

“Ek pleit by ons inwoners en besoekers om voort te gaan om hul deel te doen om die risiko van infeksie en oordrag in hierdie belangrike tyd te verminder,” het Smith gesê.

Hy sê net deur saam te werk kan die druk op die gesondheidstelsel verlig word en Suid-Afrika weer op die herstelpad geplaas word.

Die stad se operasionele planne vir die feestyd geld steeds, hoewel dit in ooreenstemming met vlak 3-regulasies aangepas is.

Wetstoepassers sal patrollies doen en saam met die polisie voertuie nagaan om te verseker daar word aan die aandklokreël en die sluitingstyd vir ondernemings voldoen.

“Dit is ʼn moeilike tyd vir almal, dus is die benadering om die publiek te help om die gewysigde regulasies te verstaan en daaraan te voldoen.”

Smith sê mense wat die regulasies oortree kan beboet word, maar die stad kan nie ernstige oortredings soos dronkbestuur of roekelose gedrag duld nie.

Hy sê hoewel ʼn verbod op die verkoop en vervoer van alkohol geld, sou dit naïef wees om te glo dat drank nie op sommige plekke gebruik word nie.

“Ons pleidooi is dus vir mense om van die paaie af te bly, groot skares te vermy en verantwoordelik te drink, of die kans te waag om die nuwe jaar in ʼn tronksel te begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.