Kaapstad pos 62 000 spoedboetes

Argieffoto bloot ter illustrasie van ‘n padblokkade. (Foto: Siyabulela Duda)

Duisende Kaapse motoriste kan binne die volgende paar weke ʼn boetekennisgewing in hul posbus verwag.

Die Kaapse verkeersowerhede het die afgelope week nie minder nie as 332 motoriste in hegtenis geneem en 104 981 boetes uitgereik. Dié aantal boetes, waarvan 59% spoedboetes, is meer as dubbel vergeleke met die vorige week.

“Spoedvrate het die langnaweek en stiller paaie hul speelveld gemaak en die aantal oortredings wat aangeteken is getuig daarvan,” sê JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid.

Altesame 62 283 spoedoortredings is die afgelope week regoor Kaapstad aangeteken. Dit sluit nie ʼn bykomende 38 174 boetes in wat deur verkeersbeamptes vir verskeie ander verkeersoortredings uitgereik is nie.

Smith raai nou dié oortreders aan om hul boetes te betaal “of die risiko te loop om agter tralies te beland”.

Altesame 1 368 motoriste is die afgelope week in hegtenis geneem weens uitstaande lasbriewe.

Die bestuurders van 22 onpadwaardige voertuie is gedurende dié tyd daarvoor beboet terwyl 35 bestuurders beboet is omdat hulle nie geldige lisensies gehad het nie. Agt bestuurders is beboet vir die versuim om veiligheidsgordels te dra, en 48 is beboet vir die besit van ongelisensieerde voertuie en 20 vir gladde bande.

Openbare vervoer is ook nie ontsien nie. Kaapstadse verkeersbeamptes het 200 voertuie vir openbare vervoer geskut en 52 bestuurders in hegtenis geneem – 44 vir beweerde dronkbestuur en agt vir roekelose en nalatige bestuur.

Daar is ook op ander onwettige aktiwiteite toegeslaan.

Twee verdagtes is Sondag in hegtenis geneem vir dronkbestuur terwyl een vir roekelose en nalatige bestuur en een vir die bedreiging van ’n minderjarige in hegtenis geneem is toe die owerhede op ’n klag van ’n versnelwedren in Bellville gereageer het.

Dit volg kort nadat ’n gekaapte voertuig Saterdag teen middernag voorgekeer is en twee verdagtes in hegtenis geneem is.

Dié groen Toyota Yaris, wat vroeër in Kensington as gekaap aangemeld is, is Saterdag omstreeks middernag gewaar voordat dit ná ’n jaagtog op die N1 net voor Sableweg voorgekeer is. Drie vermoedelik gesteelde kameras is op die agterste sitplek gevind.

Die insittendes, ʼn 39-jarige man en ʼn 33-jarige vrou, is na die polisiestasie in Maitland geneem waar die vrou in besit van ’n vuurwapen en ammunisie, in haar broek versteek, betrap is. Die vuurwapen is later in Strandfontein as gesteel aangemeld.

Die twee verdagtes staan nou tereg op aanklag van die besit van ʼn gesteelde voertuig, die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, die besit van ʼn onwettige vuurwapen en die besit van onwettige ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
louis

Is reg. Vat hulle vas!

Twallie

Dis reg. Looi hulle.

Ek is so bly dat Kaapstad baie streng is. Hier vlieg die ‘bribe” kite nie.

domheks

En hoeveel gaan deur ons poskantoor afgelewer word? Mors van geld om iets te pos.

Phillip

Ons kry die afgelope 3 maande geen pos nie en net eendag is die posbus oorvol en moet dan vure doodslaan vir agterstallige rek.

Pietertjie

Kan iemand dalk sê hoeveel inkomste word vir die stadsraad en sy agente gegenereer. En hoeveel voertuie is geskut, en hoeveel bestuurslisensies is gekanselleer (wat óók inkomste genereer)?