Kaapstad: Publiek moet sê oor konsep-waterstrategie

Theewaterskloofdam (September 2018)

Die publiek word genooi om kommentaar te lewer en aanbevelings te maak oor stad Kaapstad se konsep-waterstrategie. Die sluitingsdatum vir publieke kommentaar is 15 Maart 2019.

“Die doel van die strategie is om seker te maak dat die stad beter bestand te maak teen droogte in die toekoms,” het burgemeesterskomiteelid Xanthea Limberg Sondag in ʼn verklaring gesê.

Die strategie verduidelik die stad se plan om waterveiligheid oor die volgende 10 jaar te verseker.

“Nuwe oppervlakwaterhulpbronne is beperk. ʼn Groter deel van Kaapstad se wateraanvraag sal in die toekoms uit alternatiewe bronne gehaal word, insluitend grondwater, hergebruik van water en ontsouting,” lui die verklaring.

“Gebaseer op scenario-analise verbind die stad hom daartoe om beskikbare kapasiteit met meer as 300 miljoen liter water per dag oor die volgende 10 jaar te verhoog. Kaapstad sal steeds staatmaak op reënwater in damme vir die grootste deel van sy watervoorraad, wat baie goedkoper is as alternatiewe hulpbronne.

“Die stad bly toegewyd daartoe om Kaapstad mettertyd te verander in ʼn watersensitiewe stad. Dit sal deur nuwe aansporings en regulatoriese meganismes gedoen word, in gesprek met inwoners.

“Die onlangse droogte was ʼn groot les vir ons almal. Hierdie strategie is die produk van omvattende werk wat die stad in konsultasie met verskeie plaaslike en internasionale kenners gedoen het en is geskep om Kaapstad te beskerm teen toekomstige droogtes. Ons poog om alles in ons vermoë te doen om die implementering van soortgelyke streng waterbeperkings te verhoed,” het Limberg bygevoeg.

“Ons moet voorbereid wees op ʼn groter risiko en kwesbaarheid oor die volgende paar jaar weens klimaatsverandering, die toename van indringerplante, vertragings om nuwe oppervlakwaterskemas te bou en druk op die geïntegreerde waterstelsel.”

Limberg het gesê die stad kan nie meer staatmaak op vorige modelle wat betref weervoorspellings en gevolglike beplanning nie. “Ek het groot vertroue in die strategie en moedig alle inwoners aan om in dié periode deel te neem en hul insette te lewer. Watervoorraad en -aanvraag moet versoen word om seker te maak daar is voldoende water beskikbaar om aan die verwagte aanvraag te voldoen.”

Klik hier om ‘n opsomming van die konsep-waterstrategie in Afrikaans te lees.
Klik hier om die volledige konsep-waterstrategie te lees.
Belanghebbendes kan hul kommentaar aanlyn indien by www.capetown.gov.za/haveyoursay of skriftelik by munisipale kantore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Agnes ·

Kry ordentlik opgeleide engineers wat in die waterboukundig gebied kennis het

jaco ·

toe die waterkrisis op sy ergste was, het n entrepreneur n voorstel aan die Kaapse stadsraad gemaak vir n seewater outsoutingskema wat redelik goedkoop al die kaapse waterprobleme sou oplos. Dis egter afgekeur, glo omdat hy nie BEE en regstellende aksie reg in sy besigheid toepas nie.
So mense (alle mense, OOK swart en kleurling; sg. slagoffers van apartheid) moet nou maar eerder dubbel betaal vir water, of sterf van dors, solank die mediocre waterprojekte wat wel aan die gang is darem net mense met die “regte” velkleur in diens en in beheer het.
En dis die DA!!! Ek sidder vir hoe die ANC die waterkrisis in Kaapstad sou hanteer het…

Tante ·

Wat van om die ondergrondse water kanale se water wat in see loop op te vang in damme as dit moontlik is. Is nie seker waar dit vandaan kom ek reken van Tafelberg of ander oorsprong daar?

IK ·

Vergeet van die politiek en vra raad by Israel. Geld is seker wéér die probleem want die ideale sou wees om die damme se oppervlaktes kleiner te maak vir verdamping deur stootskrapers en skroppe te gebruik om dit dieper te maak. Dan ook sal daar op die omtrek grondherwinning wees om uit te deel aan die BLF en EFF.

aj ·

Daar is g’n te min water in Kaapstad nie!

Daar is te veel MENSE vir die beskikbare water.

Dokter slegs die simptome maar spreek nie die OORSAAK aan nie?

Wees dapper!

Erken daar is TE VEEL MENSE!

En maak dan soos China gemaak het om hulle armoede probleem op te los! Na 30 jaar van ”een kind per familie’ beleid is armoede onder beheer gebring.

IK ·

Maar nou is daar ‘n groter probleem: Hulle sit met té veel oumense en met té min jonges wat teen die middel van hierdie eeu ‘n tekort van 200 miljoen werkers gaan teweeg bring wat nie gestuit kan word.

Oom Willem ·

Vreet hulle dik met die belastingbetaler se geld en te onbevoeg om ‘n oplossing vir die probleem te vind en nou moet dieselfde belastingbetalers die probleem probeer oplos.

John ·

Moet asseblief tog net nie water wil hergebruik nie… Maar sekerlik sal dit een van die blink idees wees, want Afrika hou van daarvan om te suffer. Dit kos baie en dit werk nooit regtig nie. Met al die siektes in omloop en ander giftige stowwe is dit ‘n onbegonne taak en dan het ons net te veel slim mense in Afrika… Eskom is ‘n goeie voorbeeld. Dan staan almal weer tou by die fonteine…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.