Kaapstad-raadslid tree uit pos hangende dissiplinêre verhoor

Zahid Badroodien (Foto: Facebook)

Die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, Zahid Badroodien, het uit sy pos getree hangende die uitslag van ’n dissiplinêre verhoor.

Volgens Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, gaan Badroodien tydens die verhoor moet antwoord op bewerings dat hy betrokke was by die peuter aan ’n elektrisiteitsmeter by ’n eiendom wat deur hom besit word.

Dit is ’n raadsaangeleentheid wat deur die speaker se kantoor hanteer word en Hill-Lewis het gesê hy kan om dié rede nie kommentaar oor die aanklagte of dissiplinêre verhoor lewer nie.

“Raadslid Badroodien het egter aan my geskryf om te versoek dat hy uit sy pos as burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie tree hangende die afhandeling van die dissiplinêre verhoor. Ek het sy versoek aanvaar. Dit is belangrik vir elke lid van die burgemeesterskomitee om ten volle op hul werk gefokus te wees,” het Hill-Lewis gesê.

Intussen het die raadslid vir finansies, Siseko Mbandezi, ingestem om verantwoordelikheid vir die water- en sanitasie-portefeulje te aanvaar.

“Ek is vol vertroue dat raadslid Mbandezi uitstekende werk sal doen totdat raadslid Badroodien se verhoor afgehandel is.”

Hill-Lewis het Badroodien bedank vir sy bydrae as raadslid vir water en sanitasie. Badroodien het sedert November verlede jaar dié posisie beklee.

“Ek sien uit na ’n regverdige en spoedige oplossing van hierdie saak, in die beste belang van alle inwoners van Kaapstad.”

Hy het verdere navrae aan die speaker se kantoor verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC sou hul lid bevordering gee…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.