Kaapstad-reserviste in die hof oor beweerde bedrog

Argieffoto

Argieffoto

Twee polisiereserviste het Donderdag in ʼn hof in Kaapstad verskyn nadat hulle glo versuim het om dagga en kontant, wat hulle van ʼn verdagte gekonfiskeer het, by die Grassy Park-polisiestasie in te dien.

Mark Ward (41) en Danny Williams (45) staan tereg op aanklag van bedrog en dwarsboming van die gereg. Hulle is nie gevra om te pleit toe hulle voor landdros Sabrina Sonnenberg in die Bellville gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn het nie.

Volgens die klagstaat was hulle in Februarie op patrollie in Grassy Park toe hulle ʼn verdagte voorgekeer het wat in die straat geloop het. Williams het glo vyf pakkies dagga en R2 500 kontant in die man se sak gevind. Hulle het glo die verdagte in hegtenis geneem, en ʼn ruk lank met hom rondgery terwyl hy agter in die patrollievoertuig gesit het.

Volgens die klagstaat het hulle die verdagte se pa teëgekom en hom ingelig dat hulle sy seun in hegtenis geneem het op aanklag van dwelmhandel.

Hulle het nog ʼn ruk lank met die verdagte in die voertuig rondgery voordat hulle stilgehou het en hom laat gaan het.

Die verdagte, wat vrygelaat is, is later saam met sy pa na die Grassy Park-polisiestasie om uit te vind oor die kontant wat gekonfiskeer is, maar hulle het uitgevind dat geen klagtes teen hom aanhangig gemaak is nie en geen kontant of dwelmmiddels is ingedien nie.

Op die aanklag van bedrog het senior staatsadvokaat Simon Leope aangevoer die twee polisiebeamptes het die pa en seun valslik onder die indruk gebring dat die seun aangekla gaan word van die besit van dagga en dat die gekonfiskeerde dagga en kontant ingedien gaan word as bewysstukke.

Die staat voer aan Ward en Williams was nie van plan om die seun aan te kla nie en het later slegs R700 van die R2 500 ingedien en gesê dit is “verlate gevind” en nie dat dit gekonfiskeerde kontant was nie.

Die twee moet volgende jaar op 5 Februarie weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Vinkel en koljander; die een is net soos die ander . . .

Dee ·

Busfark, net ‘n vriendelike wenk. Jy moet jou woorde uiters versigtig kies want in ‘n kommentaar tydens ‘n Pistoors-berig,waar jy uitgevaar het teenoor mense wat ‘oordeel’, het ek jou vriendelik gewaarsku dat ek jou kommentare gaan dophou. Om een of ander rede het Maroela my antwoord aan jou gesensor. Beskou hierdie as ‘n vermaning – jy het gesê mense mag nie oordeel (wanneer Pistorius onder bespreking is nie), ek watch jou! As jy slim is sal jy van naam verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.