Kaapstad-rooftogte: Rowers doen hulself as klante voor

Canal Walk-winkelsentrum Foto: www.milnerton.info

Canal Walk-winkelsentrum Foto: www.milnerton.info

Die polisie in die Wes-Kaap en verskeie veiligheidsagentskappe in die provinsie stel ondersoek in ná ʼn vlaag rooftogte by winkelsentrums die afgelope paar maande.

“Ons probeer bepaal waar die leemtes is en hoe ons dié leemtes kan aanspreek,” het maj.genl. Sharon Jephta, adjunk polisiekommissaris van die Wes-Kaap, Sondag gesê. Sy het gesê die rowers teiken hoofsaaklik juweliersware- en selfoonwinkels.

“Dit is hoofsaaklik MTN-selfoonwinkels wat die naaste aan ingange in winkelsentrums is wat geteiken word,” het Jephta gesê. “Hulle doen hulself gewoonlik as klante voor en slaan toe selfs al is daar ander klante in die winkel.”

Altesaam 15 mense is die afgelope paar maande in hegtenis geneem wat óf deel van rooftogte is óf wat betrap is met gesteelde selfone.

“Die ondersoeke duur voort en ons analiseer beeldmateriaal en analiseer die modus operandus,” het sy bygevoeg. “Ons kon egter nie hierdie 15 verdagtes aan mekaar verbind nie.”

Speurders sukkel glo ook om die verdagtes deur vingerafdrukke op te spoor. “Hulle raak nie aan die selfone wat op uitstalling is om enige vingerafdrukke te laat nie. Hulle gebruik pistole en wanneer die veiligheidswagte tydens die rooftogte op patrollie is, word hulle gedreig en in die voorraadkamer toegesluit sodat hulle nie ander veiligheidswagte in kennis kan stel nie.” In plaas van hardloop, stap die rowers ook weg met die buit. “In sommige gevalle weet die veiligheidsbeamptes nie eers van die rooftog nie, aangesien die verdagtes die perseel met ʼn sak selfone verlaat sonder om lawaai te maak.”

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens werk ook nou saam met Business Against Crime om die rooftogte aan te spreek. Die polisie het onderneem om patrollies by winkelsentrums op te skerp, maar het nie enige verdere besonderhede bekend gemaak nie.

Verskeie winkelsentrums insluitend Canal Walk, Tygervallei en Zevenwacht het al die afgelope paar maande deurgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lynni ·

Capegate het ook al deurgeloop. Nerens meer veilig. Ek kyk nou rond by winkelsentrum voor ek uitklimp. Een van di dae kaap hul ons by sentrums se parkeerterrein. Mense wat motors ‘oppas’ is ook net daar vir geldjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.