Kaapstad se Dag Zero nóg nader geskuif

dag-zero-mmusi-maimane

Mmusi Maimane, leier van die DA, het tydens die bekendstelling van die stad se “#DefeatDayZero ”-veldtog in Athlone gesê hy glo die dreigende sperdatum kan vermy en selfs oorkom word. Foto: Facebook.

Die dag waarop Kaapstad se krane leeg loop is Dinsdag nog verder vervroeg na 12 April.

Kaapstad sal dan die eerste moderne stad in die wêreld word wat al sy skoon waterreserwes uitgeput het ná die ergste droogte in ʼn honderd jaar die stad se reservoirs opgedroog het. Inwoners sal op dié sperdatum tot net 25 liter water per persoon per dag beperk word en in lang rye moet staan om hulle water by sekere punte te ontvang.

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie (DA), het Woensdag tydens die bekendstelling van die stad se “#DefeatDayZero”-veldtog by die Joseph Stone-ouditorium in Athlone gesê hy glo die dreigende sperdatum kan vermy en selfs oorkom word.

“As ons niks doen nie, gaan ons beslis ʼn Dag Zero in die gesig staar, maar as Kapenaars kan hou by 50 liter water per persoon per dag, kan ons Dag Zero terugdruk. Dit sal ons ʼn kans gee om die krisis te oorkom.”

Maimane het erken hy is nie heeltemal gelukkig met die wyse waarop die Stad Kaapstad die droogtekrisis hanteer het nie; veral die kommunikasie daaroor het volgens hom te kort geskiet.

Hy het bevestig dat Ian Neilson, adjunkburgemeester van Kaapstad, en Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water, die bestuur van die droogtekrisis sal oorneem omdat hulle volgens hom die beste mense vir die werk is.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, sal die provinsie lei en sal verantwoordelik wees vir rampbestuur indien Dag Zero sou aanbreek, terwyl Bonginkosi Madikizela, leier van die DA in die Wes-Kaap, en Anton Bredell, provinsiale minister vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sal help om die strategie van die droogtekrisis-span te implementeer.

Waar staan Kaapstad nou?

“Ons damme, die primêre bron van water van Kaapstad, se vlakke staan tans op 27,2% met net 17,2% bruikbare water oor.

“Mense vra dikwels vir my hoekom ons nie nog damme gebou het nie, maar grootmaat-voorsiening van water is nie die verantwoordelikheid van ʼn stad of plaaslike regering nie. ʼn Plaaslike regering het eenvoudig net nie die begroting om dit te doen nie.

“Die Wes-Kaap het daarom die nasionale regering nodig om sý rol te speel om water te voorsien. Daarom gaan ek die geveg na dié vlak neem om te verseker die departement vervul sy grondwetlike mandaat,” het Maimane gesê.

Hy het bygevoeg die stad het wel beheer oor sy infrastruktuur, en dit is waarom die stad ʼn wêreldklas-lekkasiestelsel ontwikkel en ingestel het wat waterlekke tot 14% afgebring het van die 37% gemiddeld vir Suid-Afrikaanse munisipaliteite.

Maimane het ook die kwessie van ontsouting tydens sy toespraak aangeraak: “Ek word ook dikwels gevra hoe dit moontlik is dat ʼn stad wat deur die see omring word, se water kan opraak. Ontsouting is ongelukkig duur en ingewikkeld.

“Die probleem is dat daar net eenvoudig nie geld is om die ontsoutingsaanleg te bou wat ons benodig om in die stad se behoeftes te voorsien nie. So ʼn aanleg kan tot R15 miljard beloop, wat ʼn derde van die stad se begroting is.”

Die stad het egter besluit om vir hulle onmiddellike aanvullingsplanne drie klein ontsoutingsaanlegte op te rig, wat by Strandfontein, Monwabisi en die Waterfront geleë is.

“Ons hooffokus is nou om Atlantis en die Kaapse Vlakte se ondergrondse water te ontgin. Dit is die vinnigste en koste-doeltreffendste wyse om water aan Kaapstad te voorsien.

“Watervoorsiening sal ook aangevul word deur private damme en hergebruikte water om te verseker dat 120 megaliter teen Mei 2018 bygevoeg word.”

Bestuur van watergebruik

Maimane het egter benadruk dat die enigste manier waarop Kaapstad se inwoners Dag Zero kan vermy is om hulle watergebruik te verminder.

“Daar is ongelukkig geen eenvoudige oplossing of aanvullingsplan wat in die korttermyn die feite gaan verander nie. Die situasie waarin ons onsself nou bevind kan nie toegeskryf word aan swak beplanning nie. Die stad is in ʼn greep van een van die ergste droogtes in sy geskiedenis en dit is hier waar ons elke inwoner, sakeman en toeris se hulp nodig het.”

Hy het inwoners bedank wat reeds drastiese stappe gedoen het om hulle watergebruik te verminder, maar gewaarsku dat hulle nou sal fokus op die meer as 50% van inwoners wat steeds te veel water verbruik.

“Daar sal weekliks tussen 2 000 en 2 500 waterverbruiktoestelle geïnstalleer word en waterdruk sal ook verminder word. Dit mag beteken dat sekere gedeeltes van die stad sonder water sal wees, maar nooit langer as 12 ure nie.”

Dag Zero

Maimane het Kapenaars ook die sekerheid gegee dat as die sperdatum sou aanbreek, daar ʼn groot hoeveelheid voorbereiding gedoen is sodat elke persoon elke dag 25 liter skoon water sal ontvang.

Hy het gesê die provinsie en stad werk hard daaraan om ekstra verspreidingstelsels in te stel sodat daar nie soveel druk op openbare verspreidingspunte geplaas word nie.

“Skole, hospitale, informele nedersettings en ander noodsaaklike dienste sal van water voorsien word. Die Stad sal ook die sentrale sakekern van water bly voorsien om te verseker ekonomiese aktiwiteit kan hier voortgaan.”

Maimane het gesê hy en die span sal weekliks vergader om die veldtog se vordering in die plaaslike media en sosialemediakanale op te volg. Hy het inwoners en toeriste aangemoedig om die #DefeatDayZero-webwerf en Facebook-blad te besoek vir meer inligting.

“Indien ons almal saamwerk, kan ons Dag Zero oorwin – ons kan en ons moet dit eenvoudig net doen,” het hy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sarie ·

Mel, Ek bid saam met jou dat dit gebeur en ek glo dit sal, Die HERE weet wanneer en waar.

Johann ·

Dis wat gebeur DA wanneer interne pollitiek en onbevoegdheid oorneem, eerder as n verandwoordelike ontplooing van bekwame en ervare persone. Ja, daars n droogte, maar julle het hiervan geweet soos die res van ons. SHAME IN YOU!!!!!

Tania ·

In huishoudings bespaar ons almal. Jonk en oud in my omgewing. Ons probeer alles in ons omgewing. Wat doen Stad Kaapstad se bestuur behalwe im te dreig en weereens te dreig.

Meerkat ·

My vrou is ‘n gevorderde Dimenitia lyer. Ek het ‘n agressiewe, aktiewe kanker. Ons het 2 verpleegsters vir hulp. Een voltyds en een heeltyds. Alles gaan oor higiëne. Die tuin is lankal dood. Die motor het sedert voor verlede winter nie ‘n nat lap vir skoonmaak gesien nie. Stad Kaapstad dreig nou om ons water af te sny, wyl ons vir 40 jaar getrou ons belasting bataal, en baie gereeld die Metro moet bel om ons water en dienste rekening te kry. Is dit hoe politici bal speel met mense se lewens? Is daar iemand wat regtig belangstel om te luister?

HPV ·

Hier in Bloemfontein is dieselfde probleem besig om te gebeur. Die Mangaung metro is egter bankrot en kan Bloemwater asook ander kontrakteurs nie meer betaal nie.
Daagliks word ons as belastingbetalers gedreig asof ons skuld daaraan het. Mens is besig om siek en sat te word vir die metro en sy hele bestuur. Ons het nie so gelewe nie! Ons het ook nie nodig om so te lewe nie.

Deon ·

Die DA regering het geslaap!!! Water word orals gemors. Ek het vandag ‘n video gesien hoe karre orals gewas word in die strate en daar word niks aan daardie mense gedoen nie!!

Klip-in-die-bos ·

Intussen word die damme se bodems skoongemaak van modder en slik??

Sak ·

Ons weet nou almal dat daar groot waterbronne in die waterdraers op die Kaapse vlakte is. Het julle al een boorgat geboor om die watertoevoer aan te vul? Om een gat te boor sal nie langer as n week duur nie. Wat se speletjie speel julle DA?

Kowa ·

Waar gaan die 25 liter, per persoon, se water vandaan kom? Die hele land se damme is byna leeg. Voor julle my stenig, ek weet hulle moet water kry, maar teen watter koste en van waar af moet dit kom.

LB S ·

Ek wonder ook so waar kry hierdie plekke huidiglik hulle water waar jy gebruikte kanne net gaan volmaak vir R6 of so iets (onder korreksie), soos hier langs ons Pick&Pay, Plattekloof.
Ek wonder ook wat gaan ons doen met ons toilets! 25 liter gaan nie genoeg wees daarvoor ook nie, van die wasgoed praat ek nie eers nie.

Nooit in my wildste drome en nagmerries het ek gedink so iets gaan my oorkom in ons sonnige S A nie!

Watershedding? ·

Ek lees nêrens dat daar planne is om “watershedding” in te stel nie? Dit behoort mos ook ‘n verskil te maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.