Kaapstad se dag zero tot 2019 uitgestel

Kaapstad (argieffoto) Foto: HPBotha, Pixabay

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het Woensdag gesê dag zero sal nie in 2018 in Kaapstad plaasvind nie en die krane sal nie opdroog nie, op voorwaarde dat inwoners steeds hul waterverbruik op die huidige vlakke hou tesame met ʼn goeie reënseisoen.

Maimane het tydens ʼn perskonferensie by die party se federale hoofkantoor in Kaapstad gesê die stad was twee maande gelede in ʼn benarde situasie. “Ons het gehoor dat die watervlakke byna uitgeput is, as gevolg van die ergste droogte in 100 jaar in die stad, en dat die krane op 12 April sou opdroog.

“Ek is dus dankbaar om aan te kondig dat, indien ons goeie winterreën kry dié seisoen en die waterverbruik op die huidige vlakke bly, dat dag zero nie in 2018 sal plaasvind nie. Dit beteken die krane sal in 2018 oopbly!”

Hy het gesê waterverbruik staan tans op tussen 510 en 520 miljoen liter water per dag, in vergelyking met byna 1,2 miljard liter in Februarie 2015.

“Hierdie 60% daling in verbruik is ʼn ongelooflike prestasie en is beter as enige ander stad in die wêreld wat ook deur erge droogte geteister word, soos Sao Paulo, Melbourne en die staat Kalifornië,” het hy bygevoeg.

Maimane het bygevoeg dat die kollektiewe prestasie gevier kan word, “maar dit is nie nou tyd om agteroor te sit nie”. “Alhoewel dit nou onwaarskynlik is dat dag zero in 2018 sal plaasvind, bly dit ʼn werklikheid tydens die somermaande van 2019 as ons nie beduidende reënval kry nie. Ek wil dit benadruk – ons moet ons waterverbruikvlakke handhaaf tot minstens ná die winterreënval. Ons kan en moet steeds minder as 50 liter water (per persoon) per dag gebruik sodat dag zero in sy geheel gekanselleer kan word.”

Hy het gesê hy is vol vertroue dat inwoners nie na hul vorige watervermorsingpraktyke sal terugkeer nie. “Daar is nou ʼn ‘nuwe normaal’ in die Wes-Kaap wat waterverbruik betref. Ons moet steeds hierdie kosbare natuurlike hulpbron respekteer en dit nooit mors nie. Ons moet dit ook duidelik maak dat dit afhang van die nasionale departement van water en sanitasie om by sy ooreenkoms te hou van watervoorraad wat aan die stad en provinsie verskaf sal word oor die jaar heen.”

Volgens hom is dit moontlik dat die stad die huidige waterbeperking van vlak 6B kan ophef tot vlak 5, afhangende van die omvang van die verbruik en die hoeveelheid reën wat die stad in die winter ontvang.

Hy het gesê hy is nie tevrede met die manier waarop die stad reageer het op die droogtekrisis nie, aangesien Kaapstad-inwoners voel dat hul plaaslike regering nie openlik met hulle gekommunikeer het nie, en talle blameer sy party, wat in beheer is van die stad en die Wes-Kaap.

“Kaapstad is ʼn DA-regering. Dit was belangrik dat ek ingryp om seker te maak dat inwoners die diensvlak en eerlike regering kry wat hulle van die DA verwag. Ek het daarom besluit om politieke beheer te neem van die situasie en het ʼn droogtekrisisspan aangestel wat alles in hul vermoë doen om hierdie waterkrisis te bestry.”

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, is in Januarie van alle pligte onthef wat die droogtekrisis betref nadat die DA haar beskuldig het vir die voortslepende waterkrisis. Die party het gesê die burgemeester se fokus was “elders” en haar boodskappe oor watervlakke nie duidelik nie.

Maimane het gesê toe die besluit geneem is, was die damvlakke op 27.2%, met slegs 17.2% van bruikbare water wat oor is. “Ons het dit duidelik gemaak, dat ons sal moet saamstaan om die waterkrisis te beveg en dag zero te bestry en dat ons openbare ondersteuning sal moet mobiliseer om die waterverbruik te verminder. Inwoners het wonderlik reageer, hul moue opgerol en saamgewerk. Individue, gesinne, gemeenskappe, ondernemings, privaat dam eienaars en talle ander. Almal het hul rol gespeel in dié kollektiewe poging om die krane oop te hou. Die waterverbruik het elke week gedaal en ons kon dag zero eers met ʼn paar dae, daarna weke en toe maande uitstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Saartjie ·

Ai, Maroela, die opskrif/kop van hierdie berig trek wel aandag, maar is darem ver van die waarheid.

Maimane het duidelik gesê INDIEN ons goeie reën kry en INDIEN die waterverbruik op die huidige vlak bly …

Afrikaanse Knaap ·

As ‘n leier sulke dwaashede wil kwytraak kan Maroela dit gerus berig :-)
‘n Politikus het maar min sin… Min.

Henry59 ·

Bitter bly vir Kaapstad, maar ook bekommerd, die landbouseksie het ernstige skade opgedoen, word gerieflikheidshalwe nie genoem nie. Wonder wie sal die blaam vir voedseltekort en skade aan die landbouseksie kry?

Jaco ·

Hoekom nou uitgestel tot 2019???? DIT GEE JULLE GENOEG TYD VIR ALTERNATIEWE PLANNE beste regering, sodat dit nie in 2019 wel sal gebeur NIE, of gaan ons weer weer wag en eers planne beraam wanneer die water evensieel op is? MOET DIT NIE UITSTEL TOT 2019 nie VOORKOM DIT!!!!! Maak damme skoon, sien die aanbouing van NOG ontsoutingsaanlegte as eerste prioriteit, betrek die privaat sektor daarmee as bellegers al betaal ons dan meer vir water…julle is hopeloos te besig om eerder nuwe “skyscrapers” vir die stadskom te beplan (en so nog meer mense te trek) as om om te gee oor die water!! DA….julle sal nooit weer n stem van my, my vriende of familie kry nie. Jul laat ons lelik in die steek!!

Positief ·

In ‘n positiewe lig: ek is dankbaar dat day zero uitgestel is. Wat ek wel aan die DA sal voorstel, is dat die huidige vlak 6b beperkings vir eers so gehou word (al is dit ongerieflik vir almal), om seker te maak dat ons met “reserwes” in 2019 ingaan.

Kanienie ·

Kyk, as ‘n Kapenaar twyfel ek vir geen oomblik dat ons ernstige droogte beleef nie, het met my eie oë die damme gesien, maar ………. Hierdie fearmongering, en finansiele uitbuiting van Kapenaars het my baie ontsteld. Kan nie help om te dink hoe daar nie genoeg elektrisiteiet en kragopwekkingsvermoeë vir Eskom was, tot die oomblik toe die tarrief verhogings goedgekeur is nie, toe is daar skielik genoeg elektrisiteit, en beurtkrag is iets van die verlede, als omdat ons so mooi ons kragverbruik verminder het…… Baie gerieflik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.