Kaapstad se kabelkar sluit vir instandhouding

Die instandhoudingswerk sal slegs vir twee weke lank duur. (Foto: Verskaf)

Die kabelkar wat weekliks duisende opgewonde toeriste na die bopunt van Tafelberg vat, sal in die middel van winter gesluit word vir instandhoudingswerk.

Table Mountain Aerial Cableway Company het Donderdag bevestig dat die jaarlikse instandhoudingswerk aan die kabelkarre tussen 24 Julie en 7 Augustus sal plaasvind.

Wahida Parker, besturende direkteur van die maatskappy, sê sy is bewus daarvan dat die sluiting met die Wêreldbeker-netbaltoernooi saamval en dat toeriste van regoor die wêreld na Kaapstad gaan reis.

“Ons moet egter veiligheid eerste stel,” sê sy.

“Ons jaarlikse instandhoudingsperiodes stel ons in staat om belangrike opgraderings aan alle aspekte van ons bedrywighede te doen sodat ons ʼn beter ervaring kan bied wanneer ons heropen,” sê sy.

“Ons prioriteit bly die veiligheid en gerief van ons besoekers en personeellede. Ons voldoen aan die beste veiligheidstandaarde en ons jaarlikse instandhoudingstye help dat ons aan hierdie standaarde voldoen.”

Die bedrywige kabelkar moes verlede jaar ses weke lank sluit vir instandhoudingswerk. Die vereiste instandhoudingswerk vanjaar is egter veel minder en daarom die besluit om die kabelkardiens slegs vir twee weke te sluit.

“Stappers sal steeds in hierdie tyd die verskillende staproetes kan benut, maar omdat geen kabelkarre gaan werk in hierdie tyd nie, vra ons dat stappers ag slaan op die weerstoestande wanneer hulle ʼn staptog aanpak,” sê Parker.

Die winkels by die onderste kabelkarstasie sal soos die kabelkardienste nie oop wees tydens die sluiting nie.

Parker sê egter diegene wat hulle verjaardae in hierdie tyd vier en graag van die gratis verjaardagkaartjie gebruik wil maak, hoef nie bekommerd te wees nie.

“Enigiemand wat in Julie en Augustus verjaar sal steeds vir ʼn gratis rit in September kan kwalifiseer.”

Parker sê gereelde opdaterings oor die stand van sake sal deur Table Mountain Aerial Cableway Company op sosiale media gedeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronél ·

Dankie stad, KAAPSTAD, begrotings klop en fondse word korrek aangewend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.