Kaapstad se kabelspoor vier 90ste verjaardag

‘n Uitsig van die kabelspoor. (Foto: Love Cape Town/Twitter)

Kaapstad se ikoniese kabelspoor vier dié naweek sy 90ste verjaardag. Die gewilde aantreklikheid het oor die jare ʼn omwenteling ondergaan – van toentertyd se effens skrikwekkende kajuite tot ʼn kabelspoor van wêreldgehalte.

Om die mylpaal te vier kan Suid-Afrikaners in Oktober ʼn kaartjie vir die kabelspoor koop teen net R90 per retoer, het Table Mountain Aerial Cableway Company (TMACC) vandeesweek aangekondig.

Benewens die veel goedkoper kaartjies is daar ook ʼn spesiale kompetisie wat in samewerking met Turkish Airlines aangebied word. Kabelspoorgebruikers wat R200 of meer by enige van die TMACC-restaurante bestee, kom in aanmerking vir die gelukkige trekking.

Die kabelspoor se kajuite het elk plek vir soveel as 65 mense en het roterende vloere vir ʼn 360 °-uitsig van Kaapstad en omstreke.

Een van die destydse kajuite. (Foto: Table Mountain/Twitter)

Die kabelspoor is al sedert 4 Oktober 1929 in bedryf.

“Deur die jare het ons al verskeie toekennings gekry. Ons is aangewys as een van die sewe natuurwonders en ons is ook tans in aanmerking vir die titel van die ‘Wêreld se voorste toeriste-aantreklikheid’ in die Wêreldreistoekennings,” het Wahida Parker, TMACC se besturende direkteur, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Vonkprop ·

Hoekom moet ons Suid-Afrikaners sulke belaglike hoë pryse betaal om ons eie goed te sien? Dit is net ‘n geldmaak storie. Dit kos R330 vir ‘n retoer normaalweg. Laat die buitelanders hoes en laat ons minder betaal.

Reinhardt ·

Jy weet jy kan opstap ook? Dit vat so 2 ure en is groot pret vir die hele familie. As jy nie daarvan hou nie is dit gratis op jou verjaarsdag.

Willie ·

Begin by Kirstenbosch te stap. Dan stap jy bo-op die berg verby n dam waar jy kan swem. Maar wees reg vir n hele dag se stap met hierdie roete.

Melanie ·

Ek ly aan hoogtevrees en het die verskoning gebruik dat die rit te duur was. Dit het my familie baie mooi-praat gekos. Toe koop hulle vir my ‘n kaartjie en daar word ek in die karretjie ingeboender. Ek het die hele rit op die trappie gesit en die hemel bewonder. Ek sit veel eerder in my sitkamer en kyk hoe lyk Tafelberg op televisie!

Andre ·

Ek het nog n foto wat van my en my verloofde in 1967 deur hulle afgeneem is. Ons moes by die ‘venster’ uitloer en dan kan jy die foto by hulle koop.

Ekke ·

Baie geluk een van die min goed wat nog heel bly en nie deurgetrek is nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.