Kaapstad se stadsbestuurder bedank

Achmat Ebrahim, die stadsbestuurder van Kaapstad, het bedank. Foto: ANA

Achmat Ebrahim, die stadsbestuurder van Kaapstad, het te midde van ʼn storm rondom die kop van burgemeester Patricia de Lille bedank.

De Lille het Maandag in ʼn verklaring gesê Ebrahim het sy bedanking ingedien wat vanaf Vrydag in werking tree.

“In sy bedankingsbrief het mnr. Ebrahim dit duidelik gemaak dat hy heel maklik die bewerings teen hom in die Bowman Gilfillan Inc-verslag kan verdedig,” het De Lille in die verklaring gesê.

“Met betrekking tot die voortgesette ondersoek teen hom, onderneem hy om afdrukke van alle bewyslêers aan my kantoor te verskaf wat verband hou met sy betrokkenheid by hierdie bewerings wat reeds aan Bowman Gilfillan Inc oorhandig is en duidelik toon dat die bewerings teen hom na sy mening ongegrond is.

“Ná byna 40 jaar van toegewyde en lojale diens met ʼn vlekkelose rekord, het hy dit in sy brief gestel dat sy ooglopend eerste oorweging in dié stadium van sy lewe sy persoonlike en sy gesin se welstand is.”

Die nuus van Ebrahim se bedanking kom kort nadat die DA Sondag aangekondig het dat De Lille vir eers haar posisie as burgemeester van Kaapstad sal behou, maar dat haar magte beperk sal word, nadat die party se federale uitvoerende komitee besluit het dat sy van wangedrag aangekla sal word.

Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester. Foto: Tamaryn Africa/ANA

Mmusi Maimane, leier van die party, het Sondag tydens ʼn mediakonferensie gesê De Lille sal aangekla word vir haar optrede wat die beeld van die party negatief geraak het; dat sy versuim het om haar pligte as burgemeester, “soos bepaal deur die federale raad”, uit te voer; dat sy die party se naam skade berokken het; en dat sy “onredelik en nadelig vir die interne samewerking binne die party” opgetree het.

Die aanklagte spruit uit verskeie bewerings teen De Lille die afgelope paar maande. Dit sluit in dat sy glo “onbehoorlik en onwettig opgetree het” wat betref die heraanstelling van Ebrahim deurdat sy “onregmatig lede van die keuringspaneel beïnvloed het”.

Volgens die DA het De Lille ʼn teksboodskap aan ʼn lid van die paneel gestuur waarin sy sê: “Ek wil Achmat [Ebrahim] behou, so gee vir hom die meeste punte. Dankie.”

Na bewering het De Lille ook versuim om die raad voldoende op die hoogte te bring van onreëlmatighede en finansiële verliese in die stad weens sy kontrak wat betref die MyCiTi-busdiens, en dat sy versuim het om regstellend in dié verband op te tree.

Sy word ook daarvan beskuldig dat sy “onbehoorlik en/of teisterend opgetree het in haar leierskap aan die koukus van die party in Stad Kaapstad, deur haar woorde en optrede, en dat sy koukuslede geïntimideer of verkleineer het as hulle nie met haar saamgestem het nie”.

De Lille het Maandag in haar verklaring oor Ebrahim se bedanking gesê hy het “ʼn onberispelike en bewese rekord” vir sy tydperk as stadsbestuurder en dat die stad in dié tyd talle prestasies behaal en toekennings verower het, waaronder skoon oudits. “Hy was onontbeerlik om die Stad te lei om die beste administrasie in die land te hê,” het De Lille gesê. “Sy bedanking is inderdaad ʼn groot verlies vir Stad Kaapstad en sy inwoners.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jacobus ·

2018 gaan beslis ‘n interesante jaar word.

As Mev. De Lille loop by die DA soos ek dink gaan gebeur, gaan sy die Bruin stem vat en die DA so verswak wat glad nie ‘n goeie ding gaan wees nie, want sy gaan dan in koalisie met die ANC gaan om so beheer weg te vat van die DA in Kaapstad en ander stede/dorpe in die Weskaap waar die DA regeer.

Sy is ‘n opperse en slinkse oppertunis en weet waar haar brood gebotter is.

Die ANC gaan nie die verlede hulle lei as dit gaan beteken dat hulle weer aan die bewind in Kaapstad/Weskaap kan kom nie.

Miskien verbaas sy ons en word weer deel van die PAC vanwaar sy kom en gaan dan in koalisie met die EFF en ander linkse partye.

Net die toekoms sal leer.

rollie ·

Jy’s verkeerd. Sy was voorheen leier van die ID party wat gefokus was op die Bruin-stem maar hulle het maar min ondersteuning van die Bruin-gemeenskap gehad.

Piet Pompies ·

Sy kan nie net oorloop na die ANC toe nie, sy moet eers ingestem wees voordat sy weer aan die politiek kan deelneem.

Jacobus ·

Voor die ID was sy by die PAC dit is waarna ek verwys het.

Die ID het nooit werklik ‘n kans gestaan nie en was net ‘n skakel na iets groter soos samesmelting met die DA.

Die volgende verkiesing is naby.

jaco ·

Sy was blykbaar korrup en oneerlik, maar toe dit kom by goedkeur van ‘n tender vir ‘n reuse ontsoutingsaanleg wat al die kaap se waterprobleme sou oplos sonder hoë koste, tóé tree sy “binne die reels” op en keur die tender af omdat die maatskappy wat getender het, glo nie BEE en regstellende aksie reg toepas nie.

jcwf ·

Eers Zille, nou De Lille. Hmmm…

Waarom kry ek die gevoel dat dit met melanien en estrogeen verband hou, Maimane?

Jannie ·

MM is agter die hele ding, hy soek die DA vir homself. Hy het openlik gese hy ondersteun BEE en sal hulle voorkeur gee. MM gaan die DA laat krummel en dan met die ANC melt.

Dink maak baie mooi voordat jy weer vir die DA stem!!

Kobus ·

en wat van Tony Leon wat so groot geld kry.

gaan dit regtig oor haar of die water.

almal probeer net geld geld uit die waterkrisis maak.

Oom Piet ·

Te meet aan opleiding, ervaring, toegepaste (embedded) kennis en bewese ondervinding plus betroubaarheid as Stadsbestuurder van DA verkose Kaapstad, wie was beter as Achmat Ebrahim?
As kampvegter teen korrupsie, hoe moes de Lille as verkose Burgermeester van Kaapstad laat weet dat sy hom as (embedded) Stadsbestuurder van Kaapstad wou behou? In ore fluister of op skrif stel?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.