Kaapstad se waterbeperkings verder verslap

Vlak 3-waterbeperkings tree op Saterdag 1 Desember in die Moederstad in werking. Foto: Morné van Rooyen

Kapenaars kan uitsien na ʼn effens natter somer wanneer die Moederstad se waterbeperkings op Saterdag 1 Desember van vlak 5 na die vlak 3-herstelbeperkings verslap word.

Dit beteken elke inwoner sal voortaan geregtig wees op 105 ℓ water per dag, pleks van die huidige 70 ℓ, terwyl die stad se algehele waterverbruik van die huidige 500 miljoen liter water per dag tot 650 miljoen liter mag toeneem.

Terselfdertyd sal die tariewe ook daal na vlak 3. ʼn Huishouding wat byvoorbeeld minder as 6 000 ℓ per maand gebruik, kan verwag dat hul waterrekening met 35,5% sal daal.

Die stadsraad sê die besluit kom ná die nasionale departement van water en sanitasie se jongste water-assessering. Die beperking bly nietemin betreklik streng omdat onsekerheid bestaan oor die verwagte reënval in die volgende twee jaar.

Die 40%-beperking op sakeondernemings se waterverbruik is intussen opgehef, maar die stadsraad moedig dié sektor aan om steeds na ál beter doeltreffendheid in hul waterverbruik te streef.

Die Stad Kaapstad beskou 2019 as ʼn “hersteljaar” nadat die Moederstad die afgelope jaar se droogtekrisis die hoof kon bied.

Die nasionale regering beveel ʼn besparing van 10% tot 20% vir stedelike verbruikers aan gegrond op die huidige waterjaar. Maar Kaapstad het ʼn versigtiger mikpunt van 30% ingestel om die damme te help herstel en voorsiening te maak vir die onsekerheid ten opsigte van die verwagte reënval in 2019.

Intussen sê wetenskaplikes van die Verenigde Nasies alles dui daarop dat 2018 die vierde warmste jaar in menseheugenis sal wees. Die drie warmste jare is 2015, 2016 en 2017, berig Deutsche Welle.

Al 20 warmste jare op rekord is in die afgelope 22 jaar aangeteken.

Volgens die wêreld- meteorologiese organisasie is meer as 150 miljoen mense wêreldwyd verlede jaar geraak deur potensiaal gevaarlike hittegolwe geraak, terwyl 153 miljard werkure verlore gegaan het weens die buitengewoon warm weer.

Aardverhitting benadeel nie net meer ysbere en reënwoude nie, sê kenners, maar gemeenskappe, kinders en gesinne in alle wêrelddele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.