Kaapstad-skietery: Polisieminister vra hulp; stasie onder nuwe bevel

Fikile Mbalula. Foto: ANA

Fikile Mbalula, die minister van polisie, het inwoners van Kaapstad versoek om die polisie by te staan om die verdagtes op te spoor wat Vrydagaand 11 mense koelbloedig doodgeskiet het.

Maroela Media het Saterdag berig verskeie skietvoorvalle het in die Marikana- informele nedersetting in Philippi-Oos naby Nyanga plaasgevind.

“Altesaam tien mense is op vier tonele doodgeskiet en een persoon wat tydens die voorvalle beseer is, is later in die hospitaal dood,” het Mbalula Sondag in ʼn verklaring gesê.

“Die eerste voorval het na bewering in ʼn sjebien plaasgevind waar onbekende verdagtes skote gevuur en vier mense noodlottig gewond het. Die tweede toneel was by ʼn plakkershut. Drie mense is in dié woonplek doodgeskiet. ʼn Vierde persoon is buite die plakkershut doodgeskiet [toneel 3]. Op die vierde toneel is twee liggame in ʼn straat naby dié plakkershut gevind,” het Mbalula gesê.

Hy het gesê twee mense is tydens die skietvoorvalle beseer. Een van hulle is in die loop van die aand in ʼn hospitaal dood.

Dié skietery volg op ʼn voorval wat Dinsdag in dieselfde omgewing plaasgevind het waarin sewe mense doodgemaak is. Die polisie vermoed dit was weerwraakmoorde.

“Dié soort aanvalle op ons mense kan nie voortgaan sonder reaksie van die polisie nie. Die polisie is verplig om op te tree en hulle sal dit doen om sodoende ons mense en die stabiliteit van demokrasie te verdedig,” het Mbalula gesê.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, het Saterdag gesê ʼn taakspan is saamgestel om die geweld in Philippi-Oos te bekamp.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, het Saterdag die Philippi-Oos-polisiestasie onder die bevel van sy adjunkkommissaris, genl.maj. Mpumelelo Manci, geplaas.

Manci het jare lange ondervinding en het voorheen in Nyanga as stasiekommissaris gedien. Hy sal ondersteun word deur ʼn span wat bestaan uit spesialisspeurders, intelligensiebeamptes en hoërisiko-eenhede soos die taktiese reaksie- en nasionale intervensie-eenheid.

Potelwa het gesê polisiespanne is sedert die skietery steeds besig met soekoperasies in die gebied. Niemand is nog in verband met die skietvoorvalle in hegtenis geneem nie.

Mbalula het ʼn beroep op die gemeenskap van Philippi gedoen om die polisie by te staan om die “gewetenlose misdadigers wat geen respek vir lewe het nie” op te spoor sodat hulle vervolg kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Popeye ·

Intussen kan die minister hulle ook uitroep en 30 minute gee om hulle self aan die polisie te oorhandig. In hierdie verval baklei julle ‘n hopelose en verlore stryd minister.

Paul ·

Wat laat jou dink die weermag is tot beter instaat. Ek lag vir jou

Cherokee ·

Hy verduidelik waaragtig dat die polisie moet optree en dat dit nie kan voortgaan sonder reaksie van die polisie nie. Wat ‘n belaglike ding om te sê; dit behoort algemene kennis te wees. Almal weet dit tog. Mbalula is so lief vir sy eie stem en die woord ‘ek’ dat hy enige snert kwytraak net om gehoor te word. Hy sê dommer dinge as selfs Zuma.

Adam ·

Cherokee, wat baie interressant is is dat raaskas Fikile nou aandring op die gemeenskap se samewerking met die polisie, Dit is die einste gemeenskap wat in die tagtigerjare versoek is deur die ANC om die land “onregeerbaar” te maak. Hoe dink hy gaan die gemmenskap nou reageer op ‘n oproep na orde? Jammer Fikile, maar as jy ‘n Frankensteing geskep het, gaan jy nou met hom moet saamleef.

Chris Ws ·

Sou dit bevind word dat die moorde met enige van die 33 wapens wat onlangs by ‘n polisie stasie “gesteel” is gepleeg was ,moet die polisie aan diens tydens die “diefstal” van daai wapens van moord of tenminste medepligtigheid aan moord aangekla word.

Johanna Botha ·

Ag ou frikkie die wapens word dan uit die stasies gesteel so wat verwag jy ….goeiste die heel domste mense word aangestel ! En dan weet ons ook baie beamtes het self rekords …wat n wenresep vir totale verval !

Hanna ·

En wat van ons boere mnr Fikile? Wat van ons arme boere wat julle pense vol kos moet hou en dan daagliks aangeval word? Ek daag jou uit mnr Fikile, rep tog iets wat sin maak oor die lot van ons boere. Stilbly is ook n antwoord…

Eugene ·

Ja dis erg. Seker amper so erg soos die manne in die sg doodskis video. Ja, asb neem stappe en laat die reg sy gang gaan !

LV ·

Wonder hoeveel gesoektes het aan die Minister se versoek voldoen om binne 30 minute aan te meld? Dit is nou al versteke en wat gaan nou gebeur omdat hulle nie gehoor gegee het nie?

Boet Fasie ·

Hi Fikile Mbalulu hoehom hou jy dan nou jou hand voor jou mond, jy was lekker groot mond en nou sien jy die land en sy misdaad is buite beheer. Die misdadigers wil hulself ook nie kom oorgee nie , ek dink hulle kom nou vir jou, vra vir Zuma jy wil oorgeplaas word na die SAL of ESKOM.

Vermeende ·

Boet Fasie, misdaad was nog nooit buite beheer in die land nie, die regering is in beheer van alle misdaad!

Laika ·

Kan frikkie aangekla word omdat hy nie competant is vir die job nie?

Johannes van Staden ·

Die ANC het die land verander in n groot grap. Die wêreld lag vir die mense in beheer en onttrek net alle beleggings en dan gaan dit maar net nog swaarder en swaarder tot net mooi alles vernietig is.

John ·

Volgens hom moet almal wat nie vir Zuma ondersteun nie, uitgegooi word in die buitenste duisternis… Hoekom is hy nou so sprakeloos van verbasing? Of het hy nou net gehoor sy salaris is weer verhoog?

Mooi ·

Hoekom Doen hulle nie iets aan ons plaasaanvalle nie . Maar as Frikkies geskiet word dan word daar vertrekings gebied . Weereens n bewys frikkies is teen ons

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.