Kaapstad slaan toe op verkeersoortreders

(Foto: Cape Town FMS/Twitter)

Die Stad Kaapstad se wetstoepassingsowerhede het die afgelope paar dae 51 mense in hegtenis geneem, onder wie sewe mense vir dronkbestuur, vyf vir roekelose bestuur en een vir gesingeweld.

Die stad het ook meer as 57 000 boetes uitgereik, die meeste daarvan vir verkeersoortredings, het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

Die stad se verkeersdiens het 40 mense in hegtenis geneem, 138 voertuie geskut, beslag gelê op 129 selfone en ʼn algehele 54 196 boetes uitgereik.

“ʼn Toename in verkeer beteken ʼn toename in verwante oortredings en tussen Saterdag en Sondagaand is daar binne 24 uur altesaam 52 voertuigongelukke aangemeld. Inhegtenisnemings vir [beweerde] dronkbestuur neem stadigaan toe, terwyl aanrandingsklagte ook toeneem,” het Smith gesê.

Motoriste is onder meer in hegtenis geneem vir onwettige straatrenne in die omgewing van Bellville en Century City en altesaam 167 boetes is hiervoor uitgereik. Tydens ʼn operasie is ʼn motoris aangekeer omdat hy ʼn vervalste bestuurderslisensie en nommerplate gehad het.

Die stad se metropolisie en ander wetstoepassingsowerhede gaan intussen voort met hoësigbaarheidspatrollies by brandpunte in die stad.

Smith sê beamptes bied ook ondersteuning tydens betogings en is betrokke by verskeie operasies, terwyl hulle ook reageer op noodoproepe van die publiek.

“Terwyl al hoe meer sektore van ons ekonomie heropen en ons lewens terugkeer na naastenby wat dit was, moet die oortreding van die wet nie deel van daardie normaal word nie,” het Smith gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tanja ·

Wonderlik! ń Persoon agter die stuur van ń motor wat nie die wette gehoorsaam nie is net so gevaarlik soos iemand met ń wapen wat wil moor

JohanR ·

JP Smith…julle moet meer toe sluit en minder boetes gee. Laat hulle hof toe gaan en nie net ‘n boete moet gaan betaal, en die volgende aand maar weer iewers gaan jaag nie. Dis net te maklik!

Jax ·

Fantasties! Neem hulle lisensies weg en laat hulle dan oor 5 jaar weer aansoek doen vir n lisensie. Dieselfde geld vir mense wat oor stopstrate ry en verkeersligte nie inag neem nie. Ek is so moeg vir die wetteloosheid in die wêreld! Daar is reëls vir n baie goeie rede – kom dit na en almal sal veilig kan ry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.