Kaapstad slaggereed vir feestyd-besoekers

Feestyd (Foto: Verskaf)

Namate die vakansiepiektyd ál nader kom, het die Stad Kaapstad sy jaarlikse voorbereidingsplan vir die feestyd bekendgestel om ʼn veilige tyd vir inwoners én vakansiegangers te verseker.

Gegewe die tweede vlaag van Covid-19-infeksies wat die Wes-Kaap tans ervaar, moes die feesplan vanjaar aangevul word om dié ekstra gesondheidsverwante uitdaging te verreken.

Stadsdienste het ietwat berusting gekry danksy die kansellering en/of uitstel van groot geleenthede soos die aanskakeling van die Kersfeesliggies en die jaarlikse Kaapse Klopse-geleenthede.

Die feestyd sal vanjaar ook later begin, aangesien skole eers op 15 Desember sluit.

Vanweë die feit dat Kersfees én Oujaarsdag oor naweke val, asook dat skole redelik laat in 2021 heropen, gaan vakansiegangers waarskynlik langer vakansie hou.

Richard Bosman, uitvoerende direkteur van veiligheid en sekuriteit, sê die Stad se dienste is gereed vir die komende feestyd.

“Ons het ons meesterplan oor baie jare ingestel, met behulp van eksterne vennote soos die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), die Dierebeskermingsvereniging (DBV) en die polisie. As die weer saamspeel, sal ons hierdie feestyd ongetwyfeld baie besig wees,” sê Bosman.

Lewensredders is gereed vir vakansiegangers (Foto: Stad Kaapstad)

“Dit is uiters noodsaaklik dat ons Covid-19 en die risiko van blootstelling aan die koronavirus monitor. Tweede Kersdag en Nuwejaarsdag wek veral kommer omdat vakansiegangers dan gewoonlik na strande stroom.”

Bosman sê die verbruik van alkohol op strande en openbare plekke, asook die drink-en-bestuurkwessie is ʼn groot kopseer in vakansietye.

Die Stad se drankeenheid het gedurende die afgelope somerseisoen op byna 20 000 bottels (11 535,63 ℓ) alkohol beslag gelê.

Sedert die hervatting van alkoholverkope ingevolge die verligting van die afsonderingsregulasies het die Stad se dienste ʼn voortdurende toename in alkoholverwante inhegtenisnemings op die paaie waargeneem.

“Ons het vroeër reeds genoem dat alkoholverwante trauma ʼn onnodige las op die gesondheidstelsel plaas, veral noudat ons daardie hulpbronne benodig om die tweede vlaag van Covid-19-infeksies te bekamp. Dit plaas ook druk op ons beperkte handhawingsbronne.”

Bosman doen ʼn beroep op mense om hierdie feestyd die wet te gehoorsaam.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê dit is nie net noodsaaklik om hierdie feestyd die wet te handhaaf nie, maar ook om die nodige Covid-19-regulasies na te kom.

Verkeersdienste is ook slaggereed vir die feestyd (Foto: Verskaf)

“Volgens ons rampbestuursentrum begin ál meer mense die regulasies in winkelsentrums en ander ekonomiese kerngebiede verontagsaam,” sê Smith. “Ons het ʼn geleidelike toename in die aantal Covid-19-nakomingsoperasies by ondernemings in die stad gesien, van 69 in Oktober tot 85 in November. Die syfer in Desember sal ongetwyfeld aansienlik hoër wees.”

Volgens Smith kan Kaapstad dit nie bekostig om tot ʼn Covid-19-brandpunt verklaar te word nie.

“As ons nie selfregulering drasties verbeter nie, sal ons die geleentheid skep vir die nasionale regering om dit vir ons te doen.”

Nóg ʼn prioriteit vir die Stad is waterveiligheid, met behulp van 340 seisoenstrandredders en 300 lewensredders in die swembad rondom die metropool. Lewensredders ondergaan ʼn streng ondersoekproses en elkeen moet voldoen aan die vereistes wat deur Lewensredding Suid-Afrika uiteengesit word.

Daarbenewens sal die departement vir maatskaplike ontwikkeling en vroeë kinderjare weer die Identikidz-program, wat die veiligheid van kinders op strande en by swembaddens verseker, instel. Dit gaan reeds op 16 strande tydens die feestyd in werking wees.

Sosiale afstand moet ten alle tye gehandhaaf word (Foto: Verskaf)

“Die Stad belê baie hulpbronne in veiligheid by strande en swembaddens. Ons herinner mense daaraan om die aanwysings van lewensredders na te kom, om slegs in aangewese gebiede te swem, nie te drink en te swem nie, om hul kinders te alle tye dop te hou en versigtig te wees vir sterk strome.”

Minder mense kan vanjaar tegelykertyd in swembaddens swem, in ooreenstemming met Covid-19-protokol.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, herinner mense daaraan om op Covid-19-protokol bedag te wees en met personeel saam te werk terwyl hulle tou staan by die fasiliteite of die geriewe geniet.

“Vakansiegangers moet ook die nodige afstand op die strande handhaaf en maskers dra as hulle nie swem nie,” sê Badroodien.

Verskeie stadsdepartemente sal in samewerking met agentskappe voortgaan om deel te neem aan protokolnakomingsbesoeke aan ondernemings in die metropool, veral restaurante en kroeë.

Daar is ʼn nooddiens (021 444 3582) vir nakoming geskep waar mense uitbrekingsvoorvalle of die nienakoming van regulasies deur ondernemings kan aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan

En die mite leef voort dat die “maatreëls” ‘n verskil maak.

Debbie

Hoe gaan hulle social distancing beheer op die strande ens?
En gaan mense moet maskers dra op die strande terwyl hul tan?