Kaapstad soek antwoorde oor toerismebedryf

(Foto: Facebook)

James Vos, die burgemeesterkomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur in Kaapstad, het gesê hy het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, skriftelik versoek om te hoor wanneer toerisme op plaaslike, streek en internasionale vlakke sal kan hervat.

Dit volg ná Vos gehoor het die bedryf sal na verwagting nog minstens vyf maande moet wag.

“Ek het onlangs gehoor dat datums toegeken is aan die verskillende vlakke van die risiko-aangepaste benadering tot die huidige afsonderingsperiode. Volgens die inligting wat ek ontvang het, sal plaaslike reis eers op vlak 2 toegelaat word, wat, blykbaar, eers in November 2020 sal wees. Dit is oor ʼn volle vyf maande.”

Vos het gesê hy het gehoor dat die land se grense moontlik ook eers in Januarie of Februarie 2021 oopgemaak sal word – wat beteken dat geen streek- of internasionale reise tot dan sal kan plaasvind nie.

“Ek het die minister van toerisme dus genader om bevestiging hiervan te versoek. Ek het versoek dat sy, volgens die departement se beraming, kan aandui wanneer plaaslike, streek- en internasionale reise sal kan hervat,” het Vos bygevoeg.

Hy het gesê die toerismebedryf word baie swaar getref deur die maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te beperk en dit kan daartoe lei dat talle poste verlore gaan.

Kaapstad Toerisme het ʼn opname gedoen onder ondernemings wat met die bedryf verbind word, soos persone en maatskappye wat akkommodasie verskaf, toeroperateurs, toeristeaantreklikhede en restaurante.

“Slegs 4% van die ondernemings, wat aan die opname deelgeneem het, sal vir langer as ʼn jaar kan oorleef. Ongeveer 36% van respondente het gesê hulle kan slegs gedeeltelike salarisse betaal. Sowat 31% het personeel wat tans op onbetaalde verlof is en 18% moes reeds werknemers aflê.”

Volgens hom is dit die rede waarom dit noodsaaklik is dat plaaslike toerisme tot minstens vlak 3 geskuif moet word, terwyl daar steeds aan streng gesondheidsprotokol voldoen word om werknemers en klante veilig te hou.

“Ons voorstel is om toerisme ʼn katalis-sektor te maak vir ekonomiese herstel en om dit aan die gang te kry deur dit hoër te skuif in die afsonderingsvlakke, terwyl ons seker maak dat gesondheidsvereistes nie in die slag bly nie. As die bedryf nie kan heropen nie, sal miljarde verlore gaan en duisende mense sal hul werk verloor – nie net in die toerismebedryf nie, maar ook in die bedrywe wat dit ondersteun, soos kos en drank, akkommodasie en vervoer.

“Talle ondernemings in die bedryf is desperaat en kan nie bekostig om nog vyf minute te wag nie, laat staan nog vyf maande.”

Suid-Afrikaanse Toerisme en die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA) is besig om ʼn voorstel saam te stel om die regering te oorreed waarom subsektore van toerisme of spesifieke maatskappye toegelaat moet word om vinniger as vlak 1 oop te maak, het Vos bygevoeg. “Ek moedig ondernemings in die bedryf aan om hul eie motiverings hier in te dien. Die sperdatum is Donderdag, 14 Mei 2020.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Niklaas ·

Kan die Kruger wildtuin dan nie maar vir dagbesoekers oopgestel word nie? Geen risiko as restaurante gesluit bly nie.

minnie muis ·

jy kan nie redeneer met iemand wat nie wil luister nie…. en dan daai person eensydig is nie …. vergelyk appels met appels ……………………………………………….

Landi ·

Ek stel voor dat Suid Afrikaners n korting moet kry, wanneer hulle toeristebestemmings besoek – wys net jou RSA ID. A.g.v. die hoë pryse, gedryf deur buitelandse valuta, kan ons gewone mense nie die pragtige plekke in ons land bekostig nie. Ons sal graag die toerismebedryf wil ondersteun as hulle ons finansiëel kan te gemoet kom. ????

Leonard ·

Laat my terugdink & verlang na ‘Inry teaters’ van ouds

Adam ·

Die toeristebedryf is reeds tydelik verwoes en al wat onseker is, is hoe lank “tydelik” gaan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.