Kaapstad soek dié met meeste boetes

Oor ʼn tydperk van ses maande het die span reeds 14 773 lasbriewe uitgereik. (Foto: Cape Town FMS/Twitter)

Die Stad Kaapstad se verkeersdepartement maak goeie vordering om diegene vas te trek wat nie hul boetes betaal nie, maar sê baie van die oortreders is steeds op vrye voet.

Volgens JP Smith, die stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, word die Top 100-lys, wat motoriste met die meeste uitstaande boetes bevat, al minstens vyf jaar lank bygehou.

“Die oortreders op die lys is verantwoordelik vir 9 430 uitstaande boetes, ten bedrae van meer as R9 miljoen.

“Die topoortreder het 268 lasbriewe, ten bedrae van net minder as R300 000,” sê Smith.

Oor ʼn tydperk van ses maande het die span – verantwoordelik vir die bestuur van die lys – reeds 14 773 lasbriewe uitgereik, waarna inhegtenisnemings ingevolge sowat 2 000 van hierdie lasbriewe gedoen is.

Dit sluit die volgende inhegtenisnemings in:

  • Beamptes het op 14 Julie ʼn minibusbestuurder voorgekeer wat op die skouer van die pad gery het, waarna hulle vasgestel het dat die bestuurder 18 uitstaande lasbriewe vir boetes van R78 000 teen hom het. Die man is in hegtenis geneem en borgtog van R16 700 is aan hom toegestaan.
  • Op 28 Junie is ʼn motoris met 167 uitstaande lasbriewe vir boetes van R148 550 buite sy huis in Masiphumelele in hegtenis geneem.
  • Op 14 Junie is ʼn motoris in Eersterivier aangekeer vir 65 uitstaande boetes van R67 700.
  • Op 2 Junie is ʼn motoris met 169 lasbriewe vir boetes van R158 100 in St. James in hegtenis geneem.

“Die lys weerspieël die gebrek aan aanspreeklikheid waarmee so baie padgebruikers blykbaar geen probleem het nie,” sê Smith.

“Oortredings by die honderde en geen aansporing om die boetes te betaal of hul oortreding te erken nie – omdat hulle dink hulle kan daarmee wegkom.”

Smith sê die gespesialiseerde span wat die grootste oortreders probeer opspoor, het dit geensins maklik nie, aangesien wetgewing bepaal dat lasbriewe persoonlik aan hulle beteken moet word.

“Met die outomatiese nommerplaatherkenningstegnologie (ANPR) wat in die komende maande as deel van ons slim polisiëringsinisiatiewe meer algemeen gebruik gaan word, wil ek ʼn waarskuwing aan alle oortreders rig dat dit die kanse om vasgetrek te word aansienlik gaan verhoog.

“Tensy hierdie oortreders tyd agter tralies wil deurbring, raai ek hulle aan om dringend uit te reik en reëlings te tref om hul boetes te betaal, asook hul bestuursgedrag aan te pas in die belang van padveiligheid,” sê Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Meerkat ·

Hoe neem jy iemand inhegtenis vir duisendebRandevse skuld. Maar laat hul net weer vry. Sonder dat hul skuld betaal.

Karel Kobus Kruger ·

Wêreldwyd gaan verkeersboetes eerstens oor geld en tweedens oor veiligheid. Die inkomste uit boetes is dan selfs n bedrag in die begroting.

Pierre ·

jy is 100 persent korrek niks kom vernuut nie, die verkeersafdeling moet ook lone betaal word om hulle werk te doen om pad veiligheid toe te pas, as dit nie vir n boete sisteem is nie sal daar geen pad veiligheid wees nie en die lone sal verhaal moetr word uit aditionele munisipale belastings ens.

HPJ ·

Kan dit nie glo nie Volgens die DA loop alles seepglad in die Kaap Maar nou ja fie DA is bekend vir hulle misinformasie en fis informasie

Manie ·

Ek lei af dis meestal taxi’s wat hier betrokke is. Ek het laasweek een oggend opgemerk dat daar 7 taxi’s op ‘n besige roete van vooraf gekom het waarvan een of beide hoofligte nie werk nie. Dis die rygoed op die pad wat summier geskrap moet word.

JohanR ·

Manie – die probleem met die blerrie taxis is sodra mens te hard op hulle afkom dan versper hulle die paaie in Kaapstad toe….N1, N2 en Weskus. Met taxis is dit Damned if you do, and damned if you don’t!

JohanR ·

Is tyd as ‘n boete aan ‘n taxi bestuurder uit gereik word dat die taxi na ‘n ATM begelei word en die boete trek. Want nou ry daai taxi bestuurder weg en gooi maar net buite sig die pink kaartjie by die venster uit. Pay and drive on or your taxi get impounded…..simple.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.