Kaapstad vat baie drank af op strande

(Foto: @ryanwarneke via Love Cape Town)

Nadat strande verlede jaar weens inperkingsregulasies oor die Desembervakansie gesluit was, is daar vanjaar reeds ʼn beduidende toename in die hoeveelheid drank waarop op Kaapse strande beslag gelê is.

Die stad se wetstoepassingsowerhede het sedert 16 Desember reeds byna 5 500 bottels drank gekonfiskeer. Dit is nagenoeg 2 941 liter, effens meer as waarop in die 2019-’20-boekjaar beslag gelê is.

  • 2019: 5 089 bottels
  • 2020: 1 510 bottels
  • 2021: 5 488 bottels

“Die syfers is uiters kommerwekkend, omdat dit daarop dui dat mense hulle bloot nie steur aan oproepe om hul drank tuis te los nie en bitter min ontsag vir wetgewing, hul eie welstand en dié van mense rondom hulle toon,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit.

“Met die Nuwejaarsnaweek nog op pad, sidder ek om te dink oor hoe die syfers teen volgende week gaan lyk. Drink in die openbaar en die antisosiale gedrag wat dikwels daarmee gepaard gaan, is niks om op trots te wees nie.”

Wetstoepassers het die afgelope week ook 189 verdagtes vir verskeie ander beweerde oortredings aangekeer. Dit sluit dronkbestuur in. Beamptes het ook beslag gelê op 38 voertuie en 30 selfone. Altesame 54 321 boetes is uitgereik.

Die stad se strande was op Kersdag en Gesinsdag bitter besig en verskeie openbare swembaddens was ten spyte van gure weer reeds vroegdag al vol.

“Ongelukkig was dié tyd nie sonder voorvalle nie. ʼn Tienjarige seun het op Kersdag in die Kampsbaai-getypoel verdrink. Die stad betuig sy diepe medelye met die familie in hierdie tyd,” sê Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

Lewensredders het ook ingegryp in drie voorvalle waar kinders oor die afgelope naweek in die water in die moeilikheid beland het.

Die stad se sogenaamde Identikidz-program het ook al byna die 50 000-kerf verbygesteek. Oor die Kersnaweek het 19 568 kinders op 16 strande vir die program geregistreer. Altesame 142 kinders is met hul gesinne herenig, 51 by Muizenberg en 24 by Strand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.