Kaapstad-veiligheidswag in hof oor porno-klagtes

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Veiligheidswag van die Kaapstad Internasionale Lughawe het Donderdag vir die derde keer in die hof verskyn op aanklag van die besit, verspreiding en vervaardiging van kinderpornografie.

Die 34-jarige man van Ravensmead in Kaapstad se noordelike voorstede se naam mag nie bekend gemaak word voor sy hofsaak begin en hy gepleit het op die aanklagte nie.

Die man het in die Bellville-distrikshof voor landdros Ronald Rieckerts verskyn. Sy borgtog van R3 000 is verleng en hy moet op 5 Mei weer in die hof verskyn.

Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek op versoek van die staatsaanklaer Nadeem Walters.

Taryn Adams, die man se regshulpprokureur, het egter versoek dat die landdros die staat waarsku dat dit die laaste keer sal wees wat uitstel gegun word vir verdere ondersoek.

Die man is in November vrygelaat op borgtog nadat hy reeds vir agt dae in aanhouding was. Sy enigste borgtogvoorwaarde is dat hy uit sy huis in Parow moet verhuis, waar die kinderpornografie glo vervaardig is, na ʼn huis in Ravensmead.

Tydens sy borgtogaansoek het dit aan die lig gekom dat daar moontlik ʼn saak van verkragting teen hom hangend is by die Kaapstadse distrikshof, maar hy het dit ontken.

Die man is gewaarsku dat hy weer in hegtenis geneem sal word en sy borgtog teruggetrek sal word indien hy die borgtogvoorwaarde verbreek.

Die man se hofsaak sal na verwagting in die hof vir seksuele oortreders in Parow aangehoor word.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het tydens die man se inhegtenisneming gesê dit was ʼn gesamentlike operasie tussen die provinsiale eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings en die Amerikaanse eenheid van binnelandse veiligheid.

Die inhegtenisneming het gevolg ná Suid-Afrika ʼn wenk van Interpol in Januarie ontvang het. Verdere ondersoek het die provinsiale eenheid na die verdagte in Kaapstad gelei. Die eenheid fokus op die seksuele uitbuiting van kinders.

Naidoo het gesê die man se huis in Parow is deursoek en die polisie het onder andere beslag gelê op ʼn tabletrekenaar, videospeler, twee USB-stokkies, drie selfone, ʼn rekenaarhardeskyf, geheuekaarte en honderde CD’s.

Hy het bygevoeg die eenheid het reeds ʼn aantal kinderpornografie-oortreders dwarsoor die land in hegtenis geneem op grond van die samewerking met internasionale agentskappe.

Lees alle vorige berigte oor Operasie Cloud 9 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elmarie Pretorius ·

Presies so saak gehad in Gauteng maar beskuldigde het in aanhouding gebly hoe kan hul vir daai man borg gee. Hy moet in aanhouding bly as hy sulke siek goed kan doen kan hy moor ook .nee kry daai man terug in aanhouding

se maar net ·

Ek se so person sal nooit verander nie want dit is sy voorkeer, soos n gewone man wat van vrouens hou en vise versa , sal so mens nooit verander want dis sy seksuele voorkeur. dis siek hulle moet sulke mense verwyder uit die samelewing.

Kiewiet ·

Kinderpornografie en kinders op ashope en puttoilette… As dit so gaan met kinders moet ‘n mens weet die land se wette beskerm eintlik glad nie kinders nie en dan moet ‘n mens verder kyk na die mense wat wette maak, want hulle voel dan niks vir kinders nie. In ‘n land waar kinders kastig sóoooo belangrik is word daar bitter min gedoen om hulle werklik te beskerm. Beskerm ons kinders as dwelmbase vry loop? Beskerm ons kinders as mensehandel hoogety vier in SA? Beskerm ons kinders as bordele oor die hoof gesien word ? Dis ‘n oorlog teen ons kinders . Stel wette in wat hulle REGTIG beskerm.

Eliza-beth ·

Wette het ons, dis die toepassing daarvan en die ordentlike ondersoeke deur aankalers en polisie wat gebrekkig is en maak dat die soort van ondiere wegkom met hul bose dade. Ek wen hul wil ‘n lys maak met foto’s van al die wat skuldig is aan die tipe van wandade sodat mense bewus is van hul ORAL want die goed kan verhuis en dan weer hul dinge voortsit in ‘n area waar mense nie bewus is van hulle nie. Verder kan mens dan in die openbaar as mens hul sien vinger na hul wys! (MINSTENS!)

ig ·

Wat is dit met sekerheidswagte?Daar is in Sasolburg ook een gevang met honderde aanklagte teen hom .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.