Kaapstad verenig teen vrouegeweld

Foto: Armand Hough/African News Agency (ANA)

Die middestad van Kaapstad het vanoggend ontplof in ʼn spontane en nierassige massa-optog van duisende mense wat teen geweld teen én moord op vroue betoog het.

Dit was nie ʼn geval van ʼn spesifiek georganiseerde optog deur ʼn spesifieke organisasie nie, maar eerder van duisende individue wat uit eie beweging swart aangetrek het en aanvanklik kleiner betogings by sleutelpunte in die stad soos die Tuine, die St. George-katedraal, die provinsiale wetgewer, die stadshuis, die stadsaal, die stadskampusse van die Universiteit van Kaapstad en die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie, die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum en die parlement gehou het.

Later deur die oggend het die woord eweneens spontaan versprei dat almal na die parlement as setel van die Suid-Afrikaanse demokrasie moet opruk en binne omtrent 20 minute het die strate om die parlement boordensvol geraak met die grootste optog in die Moederstad – die bakermat van DA-opposisiepolitiek in Suid-Afrika – sedert die optogte teen oudpres. Jacob Zuma enkele jare gelede.

Foto: Armand Hough/African News Agency (ANA)

Vandag se optogte het wit, bruin en swart in groot getalle ingesluit, en baie lede van die middelklas asook skoolkinders in hul uniforms het hulle by die optogte aangesluit. Benewens struggle-liedjies het die skare ook vredesliedjies uit die pop-genre waarmee die wit middelklas meer vertroud is, aangehef.

Die DA het sy koukusvergadering opgeskort en die party se LP’s het hulle almal by die optog aangesluit. Mettertyd het ʼn dreunsang: “Waar is die president?” opgeklink. Kort voor lank het die presidensiële kavalkade by ʼn sy-ingang van die parlement ingegaan (sonder sirenes). Pres. Cyril Ramaphosa het sy bywoning van die Wêreld Ekonomiese Forum opgeskort om die skare buite die parlement te ontmoet en te belowe om die nasie om 13:00 deur middel van ʼn regstreekse televisie-uitsending toe te spreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bietjie baie ·

Ons het n film op TV gekyk met n ouderdoms beperking van 13 jr.
Film was vol seks tonele en gevloek.
Kinders van 13+ gaan deur puperiteit. Natuurlik sal die tipe blootstelling hulle letterlik seksueel “groom”. Pedofiele gaan tronk toe oor sexual grooming, maar ons media laat dit toe.
Ouers met kinders in daardie ouderdoms groep behoort in te sien dat hierdie soort blootstelling geen respek het vir meisies en vroue nie.
Meisies en vroue word vir ontspanning uitgebeeld as sex-objects.
Dink daaroor en doen iets daaraan.

m.d.r. ·

As dit oor geweld teen vroue gaan , steun ek dit.
As bejaarde vroue ook ingesluit is steun ek dit ook. Dit gaan oor die weerloosheid van vroue teenoor die sg “sterkere” geslag.
Maar wat van bejaarde mans ? Kyk maar die aanvalle op ouer mans, veral die oor sestig…soms net vir ‘n selfoon. En dan die marteling…….hier is ‘n prioriteits probleem…!

Manie van Worcester ·

my maggies, die swyger praat sowaar, seker met n geleende tong

Irene Lerm ·

Mnr Ramaphosa, hoekom moet jy dan gesmeek word om teen plaasmoorde op te staan en jou walging daaroor uit te spreek as jy dit nou so maklik kan doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.