Kaapstad verklaar interregeringsdispuut oor raskriteria vir hulp

(Argieffoto: Nardus Engelbrecht/AP)

Die Stad Kaapstad het ʼn interregeringsdispuut met die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, verklaar oor die gebruik van raskriteria wanneer toerismeondernemings aansoek doen vir hulp by die departement se verligtingsfonds.

Dan Plato, die stad se burgemeester, sê die pandemie het die toerismebedryf op sy knieë gedwing nadat grense weens die ramptoestand gesluit is. Verskeie noodmaatreëls is intussen aangekondig om die uitwerking van die inperkingsmaatreëls op die ekonomie te versag.

Die departement van toerisme het onder meer R200 miljoen aan klein, mediumgrootte- en mikro-ondernemings (KMMO’s) in die toerisme- en gasvryheidsbedryf beskikbaar gestel. Suksesvolle aansoekers kry ʼn eenmalige bedrag van R50 000 om hulle tydens die afsonderingstydperk en daarna op hul voete te hou. Tot dusver is meer as 11 000 aansoeke ingedien en volgens die departement is 5 400 aansoeke reeds afgehandel.

Regter Jody Kollapen het op 30 April in die Pretoriase hooggeregshof beslis dat die departement ras as kriterium vir die toekenning van finansiële hulp aan KMMO’s mag gebruik.

Solidariteit en AfriForum het die hof genader toe dit bekend word dat die departement die bepalings van swart ekonomiese bemagtiging gaan gebruik om te bepaal watter ondernemings finansiële bystand kry weens die verliese wat hulle tydens die inperkingstyd ly.

(Foto: Love Cape Town/Twitter)

Die organisasies beplan nou om die konstitusionele hof direk te nader met ʼn appèlaansoek teen die uitspraak.

Weens die hangende hofaansoek is dit nie bekend of enige van die geld dus al aan suksesvolle aansoekers uitbetaal is nie, sê Plato.

Hy sê die gebruik van raskriteria beteken talle KMMO’s in die toerismebedryf kwalifiseer nie vir die hulp wat hulle nodig het om hul deure oop te hou nie omdat hulle nie aan BEE-vereistes voldoen nie. Hy sê die land is in ʼn krisis gedompel en nou is nie die tyd om ondoeltreffende transformasiedoelwitte vir noodfinansiering wat alle sakelui benodig, toe te pas nie.

Kaapstad se ekonomie steun swaar op die toerismebedryf en die bydrag wat die bedryf in 2018 tot die stad se ekonomie gelewer het, het sowat R18,1 miljard beloop. Die bedryf het ook nagenoeg 113 000 werksgeleenthede geskep.

Plato sê miljoene ondernemings en werksgeleenthede is nou in gedrang.

“Nou is nie die tyd vir rasgebaseerde beleid nie.”

Plato en James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur van die Stad Kaapstad, het by verskeie geleenthede aan Kubayi-Ngubane geskryf en gevra dat die raskriteria laat vaar word. Sy het onomwonde geantwoord dat die raskriteria bly, waarna die stad sy pleidooi aan pres. Cyril Ramaphosa gerig het. Die president het nog nie geantwoord nie.

Die stad het daarna weer onsuksesvol aan die minister geskryf.

Plato sê die stad het dus geen ander keuse as om ʼn interregeringsdispuut te verklaar nie.

(Argieffoto)

Volgens ʼn opname wat die stad onder ondernemings in die toerismebedryf gedoen het, het 4% van die respondente aangedui dat hulle die hulpbronne het om vir langer as ʼn jaar te oorleef. Net een uit drie (36%) van die respondente kan hul werkers minstens gedeeltelik betaal, ʼn derde van die respondente (31%) het werkers op onbetaalde verlof gestuur en amper een uit elke vyf (18%) deelnemers aan die peiling het reeds werkers afgelê.

Plato sê as die bedryf nie die geleentheid gegun word om weer op sy voete te kom nie, gaan miljarde rande verlore gaan en duisende mense gaan hul werk kwyt wees – nie net in die toerismebedryf nie, maar ook in die bedrywe wat daardeur ondersteun word.

Hy sê Ramaphosa het in ʼn vorige toespraak gesê dat die “nuwe ekonomie op billikheid, bemagtiging en gelykheid” gegrond moet word – en hy stem heelhartig daarmee saam.

Hy sê dit gaan egter leë woorde bly as daar nie veranderings aan die nasionale regering se kriteria vir die verligtingsfonds aangebring word nie.

“Soos dit nou staan is die finansiële hulp wat aangebied word nie regverdig nie, dit bemagtig nie en dit bevorder byna beslis nie gelykheid nie.”

Plato sê die stad het reeds alle maniere uitgeput om te verseker toerismeondernemings in die stad kry die hulp wat hulle benodig, en dat die interregeringsdispuut nou formeel verklaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Althes ·

Ek is bly as die burgermeester Dan Plato sy stem byvoeg by Solidariteit Afriforum.
Die ANC regering se rassebeleid is diskriminerend, rassisties en outdated. Elke SA’ner het die reg om as volwaardige behandel te word. En elke belastingbetaler wat bydra tot die land se welvaart moet beskerm word.

Jaco ·

Vreemd dat die DA nou kla oor rasgebaseerde “hulp”. Hulle het dan ‘n paar jaar gelede gestem VIR regstellende aksie en BEE.
Die DA is ook maar vreemd:
1. Kry met swart en bruin steun beheer van Nelson Mandelabaai en maak toe ‘n wit man burgemeester.
2. Hulle leier in die Wes-Kaap is swart, maar hy is nie premier nie. Net ‘n wit man is goed genoeg daarvoor.

Jaco ·

‘n Party wat VIR regstellende aksie en BEE gestem het en regtig ernstig is daaroor, sal effort insit om swart lede in leiersposisies aan te stel. Die DA is nie regtig ernstig oor die mooi polities korrekte goed waarvoor hulle gestem het nie. Hulle is eintlik maar nog steeds die ou wit Nasionale Party en ou wit Demokratiese Party; net met ‘n “window dressing” aksie hier en daar.

Pieter ·

Wat is jou punt? Is jy teen die DA omdat hulle nie swart genoeg is na jou sin nie, maw jy steun die ANC se BBBEE beleid?

Kanjynoumeer ·

“Nou is nie die tyd vir rasgebaseerde beleid nie.”
Om dit te sê help nie. Teken eerder n prentjie, moontlik sal dit beter verstaan word.
Só baie word gesê, maar met geen sukses nie.

gatgogga ·

Al hierdie getuienis wat daarop dui dat die ANC regering beskerming aan Suid Afrikaners op grond van ras weerhou, moet duidelik aan die wereld bekendgemaak word. Beskerming teen bedreigings wat deur die regering self daargestel is.
Sulke getuienis gaan eersdaags nodig wees wanneer ons gaan probeer om ‘n onafhanklike staat te beding, of wanneer ons vir politieke asiel in die buiteland sal moet aansoek doen.

Pieter ·

Ek sou graag wou sê daar moet dan belasting ook betaal word op grond van raskriteria, maar toe besef ek dit word reeds gedoen. Net jammer diesulkes is nie diegene wat nou kwalifiseer vir hulp nie

Jack ·

Die ding staan uit soos n seer duim. Die krisis word gebruik om politieke agterstand in te haal en die onregverdige beleid van regstellende aksie af te dwing. Waar is die hulp van wit miljarders wat na ons mense moet kyk of het hulle ook hul lojaliteit verloor teenoor die volk wat hul gehelp het om ryk te word.

Oom Hennie Pennie ·

Dankie Dan Plato. My seun werk ook vir ‘n toermaatskappy en hy het swaar gekry want daar is geen inkomste al vir twee maande nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.