Kaapstad vra hofbevel teen busstakers

Stakende MyCiti-werknemers trek saam by die Kaapse Burgersentrum. Foto: Facebook

Die Stad Kaapstad sou Woensdagaand hof toe gaan om ʼn dringende bevel te kry teen diegene wat deelneem aan die onbeskermde MyCiti-busstaking wat Woensdag gewelddadig geraak het.

Die stadsraad het die hof genader om ʼn bevel ter beskerming van MyCiti se personeel, passasiers en bates. Die munisipaliteit beskuldig die EFF daarvan dat die party die meesterbrein agter die staking is, berig TimesLive.

“Twee vrouebusbestuurders is as gyselaars aangehou, passasiers is uit MyCiti-bushaltes gejaag, MyCiti-busse is met klippe bestook en nog dade van intimidasie, aanranding en versperring van paaie is gepleeg,” het die stadsraad Woensdagmiddag in ʼn verklaring gesê.

“Sommige van die bestuurders het [Woensdagoggend] vir werk aangemeld, maar is uit MyCiti-busse gedwing wat reeds besig was om roetes te bedien. Die stakers het selfs busse se sleutels gesteel.”

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, beskuldig die EFF daarvan dat dié party die staking begin het om hul politieke agenda te bevorder. “Dis ʼn veragtelike agenda wat wentel om chaos, geweld, ontwrigting, sabotasie en eiebelang,” het Herron Woensdag gesê, berig News24.

“Hulle het geen respek vir die inwoners van hierdie stad nie; nóg vir die duisende pendelaars wat staatmaak op die MyCiti-diens, nóg vir diegene wat hulle verlei het om aan die staking deel te neem.”

Maar Andrew Arnolds, die EFF se Wes-Kaapse provinsiale sekretaris, ontken Herron se aantyging.

“Ons boodskap was [Dinsdag] duidelik dat ons geen bus met klippe sal gooi nie. [Herron] frustreer die proses. Die werkers het óns genader. Hulle het vir hulself gepraat en is in beheer van die proses. Hy gee nou voor die EFF is buite orde.”

Herron beweer die betogers is ʼn “lukrake groep werknemers van verskeie maatskappye wat roekeloos en opportunisties optree onder leiding van die EFF”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Josua ·

As jy as regering BEE ens wil implementeer dan moet jou voorvaardes en termes ook in plek wees as jy wil verseker dat die meerderheid die meerderheid werk beklee dan moet daardie selfde mense ook hul kant bring. Dit is dinge soos die wat SA gesink het almal weet dit. Alles gaan in persentasie en geld waarde op maar salarisse bly dieselfde, kry die balans tussen dit in plek en maak seker as jy BEE ens in plek wil stel dat jou termes en voorwaardes in plek is en mense dit verstaan en deurvoer dan sal Suid Afrika uit die gemors kan opstaan ongeag wie die toonbank en kantoor bedien!!!!

Skyspy007 ·

FIRE die hele spul en kry BLANKE bestuurders wat bereid is om te werk…..

Ben ·

Dit will voorkom asof Kaapstad se vervoerstelsel hier die teiken van die EFF is. Die vraag onstaan nou is hulle nie ook agter die brand van die treine nie. Daar is n groot verskil tussen staak en hierdie vandalisme. Dit het n kriminele stankie en as publiek het ons geen simpatie met die stakers nie.

Ans ·

Hierdie optogte, stakings, intimidasie, korrupte regstelsel, misdaad, bande wat brand, klipgooiery (ens ens ens………) raak nou soooooo vervelig in hierdie land!! Ek is sooooooo g@tvol. Tot wanneer moet dit so aangaan voor onse President wakker skrik en klem lê op die probleme ??? Sien hy nie ook die goed raak nie?? Maar solank die strafstelsel nie daar is nie……

Stripes ·

Hoe meer waens brand, hoe minder treine loop en hoe meer Taxi’s moet loop. Hoe meer busse staan, brand, ens hoe meer Taxi’s moet loop om die mense te vervoer. Ek weet nie wie agter alles sit nie maar ek kan sien dat die Taxi’s voordeel trek uit die situasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.