Kaapstad-water: De Lille sê oor ‘Dag Zero’

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Patricia de Lille, uitvoerende burgemeester van Kaapstad, het Donderdag in Maitland inwoners op hoogte gebring van die spesifieke impak wat die droogte sal hê.

“Ek het in Oktober gesê, indien verbruik nie tot 500 miljoen liter water van gesamentlike verbruik per dag verminder nie, m.a.w. dat elke inwoner daagliks nie meer as 87 liter water per dag gebruik nie, sal munisipale water in Maart 2018 opdroog.

“Ek is dankbaar om aan te kondig dat, weens die pogings van Stad Kaapstad en die inwoners, word Dag Zero nou aangeskuif tot 13 Mei 2018. Talle inwoners het reageer op die versoek om hul verbruik dramaties te verminder en ons sê vir almal dankie,” het sy gesê.

Volgens De Lille sal bykomende waterverskaffing van Februarie ingestel word en nog water sal in die maande daarna volg. “Dag Zero sal sodoende al hoe verder uitgeskuif word.”

Sy het gesê bykomende water is reeds van die Molteno-opgaardam in Oranjezicht (twee miljoen liter water) en die Atlantis-akwifer (vyf miljoen liter water) bekom.

“Ons het in hierdie stadium reeds sewe projekte se eerste fase van stapel gestuur: Monwabisi, Strandfontein, V&A Waterfront en Kaapstad-hawe se ontsoutingsaanlegte; die Atlantis- en Kaapse Vlakte-akwifer-projekte; en die Zandvliet-waterherwinningsprojek wat ʼn bykomende 144 miljoen liter water per dag tussen Februarie en Julie sal verskaf. Die hoeveelheid water sal in die maande daarna toenemend verhoog,” het sy verduidelik. “Ons het ook 12 projekte wat reeds in ʼn gevorderde beplanningstadium is en ons is gereed om voort te gaan, indien nodig.

“Om noodsaaklike dienste en noodsaaklike bedrywe aan die gang te hou, het ons bepaal dat die stad alle krane sal toedraai indien damvlakke 13.5% bereik. Dit is Dag Zero.

“Sommige sleutelgebiede sal geprioritiseer word om steeds toegang te hê tot watertoevoer, maar dit sal uiters beperk wees. Die gebiede wat steeds toegang sal hê tot watertoevoer, sal die meerderheid van informele nedersettings wees wat dig bevolk is. Besluite oor watter gebiede watertoevoer sal hê, word gebaseer op faktore soos kritieke infrastruktuur, bevolkingsdigtheid en risikoprofiel vir die uitbreking van siektes en brande.”

Op Dag Zero:
– Sal inwoners ʼn voorafbepaalde hoeveelheid drinkwater per persoon per dag kan bekom van 200 versamelingspunte oor die stad heen. Dié hoeveelheid sal gebaseer word op die minimum vereistes vir mense om gesondheid en higiëne te handhaaf. In hierdie stadium is die plan dat ons 25 liter water per persoon per dag beskikbaar sal maak, wat in lyn is met die aanbeveling van die Wêreldgesondheidsorganisasie.
– Ons werk op ʼn beraming van 20 000 persone per versamelpunt per dag
– Gebaseer op die behoefte, sal ons oorweeg om die werksure by hierdie persele te verleng of 24-uur bedrywighede in te stel
– Die stad se departement van water en sanitasie sal die impak op sanitasiedienste oorweeg. ʼn Omvattende veldtog oor openbare gesondheid sal van stapel gestuur word om te verseker dat alle sanitasiestelsels steel funksioneer en om die risiko vir siektes te beperk.
– Die Stad se departement van water en sanitasie, wetstoepassingsagentskappe en die rampbestuurafdeling maak hulself gereed indien Dag Zero sou aanbreek
– Die Stad vergader ook met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Weermag om die veiligheid van alle inwoners te verseker by hierdie versamelingspunte en om wet en orde te onderhou. Spanne is reeds besig om te toets hoe die waterversamelingspunte sal werk. Dit is een van die gereedheidsoefeninge waarmee die stad besig is.

“Dag Zero kan voorkom word. Inwoners lewer reeds ʼn ongelooflike bydrae om water te bespaar. Meeste inwoners bespaar water, maar elke persoon moet voldoen aan die voorgeskrewe 87 liter water per dag. As almal nie hul waterverbruik beperk nie, sal ons Dag Zero in Mei bereik,” het De Lille bygevoeg.

“Kaapstad, die situasie is ernstig, maar ons kan almal dit maak as ons ons bes doen in dié vennootskap. Ons kan Dag Zero verhoed as ons almal saam werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Madeleine ·

So baie addisionele vakansiegangers in des. Is dit ingereken?

Johan ·

Wil ook graag weet of Desember vakansie se ekstra voete die water verbruik gaan beïnvloed en of dit in ag geneem is.

jaco ·

Iewers in die Engelse media was n berig van n besigheid moet n ontsoutingsprogram wat baie gou meer water op n baie groot skaal aan Kaapstad kan lewer. Maar die Kaapse stadsraad het hulle besigheidsvoorstel summier afgekeur, omdat hulle nie aan BEE en regstellende aksie vereistes voldoen nie. So alles moet nou eerder krepeer en voortsukkel, solank die regte velkleur en ras tog net op klein skaal amper letterlik net druppels in die emmer lewer.

Pieter ·

“Gevorderde beplanningstadium” en “gereed om voort te gaan indien nodig” = dit terwyl ‘n krisis hanteer moet word!!!

Pieter ·

En nou oorweeg die munisipaliteit ‘n ekstra waterheffing omdat ons water bespaar? Wat ‘n aanmoediging!!

Paul ·

Dis presies die regte aanmoediging. As water duurder is, sal mense minder daarvan gebruik. Dis dieselfde as enige ander produk. Prys gaan op, vraag daal.

G ·

Klink vir my dat hul bang is vir die massas, daarom dat informele nedersettings lopende water sal hê. Ek weet nie hoe dit in die Kaap gaan nie, maar hier by ons word daar baie gekla oor die krane 24/7 by van die informele nedersettings loop.

@Paul, hoe is ‘n ekstra waterheffing motivering om minder te gebruik? Die groter meerderheid betaal nie eers hul rekeninge nie! En dié met geld, gaan dit nie eers voel nie. Dis dié wat nie meer op hul begroting kan sny nie, wat nie eers staatshulp kry nie, wat die swaarste getref gaan word. Die munisipaliteite betaal nie eers hul rekeninge nie, so waantoe dink jy gaan daai ekstra geld heengaan? Bonusse?

Haha, het een paloeka nie gesê die ou regering moes die damme kleiner gebou het nie, dan sou die watervlak hoër gewees het?

Dinge gaan net erger word. As daar beter grensbeheer was, geen staats ‘grant’ vir elke liewe bloedjie wat gebore word in sekere plekke nie, en beter opvoedingsvlakke, dan sou daar nie ‘n waterskaarste gewees het nie. ‘n Volksontploffing word mos aangemoedig sodat die huidige regering in beheer kan bly. Net jammer hulle leef soos koninklikes terwyl die res moet ly.

Lana ·

Ons was onlangs vir ‘n week lank in Kaapstad en het self beleef hoe hotelle, winkelsentrums en vulstasies geen poging aangewend het om water in badkamers te bespaar nie. Ek hoop van harte dat dit nie meer die geval is nie.

Verre Velede ·

In die verlede was daar ‘n heffing op water wat genoem was ” Beskikbaarheids Fooi ” want dit moes voorsien word.Hierdie heffing is vergete, die term bestaan seker nie meer.Maar vir my impliseer dit ” Dat ons betaal het vir die owerheid sodat ons water kan hê.So ek sou graag wou sê dat omdat ons dit al die jare betaal het,moes die owerheid planne beraam het het om dit onder alle omstandighede te doen.en nie om nou rond te skarrel nie!

Kaspaas ·

N plaaslikke joernalis het 2 weke teru 10 bekende hotelle in Kaapstad gebel en ge maak asof sy van Jhb is en wil kom vakansie hou. Vir al 10 het sy gese sy hou van haar bad vol water en lang storte maar sy weet nie of daar water is nie want sy sien daar is n water tekort. Al 10 het gese sy kan solank stort as wat sy wil en bad so vol tap as wat sy wil.

Verre Velede ·

In die verlede was daar ‘n heffing op water wat genoem was ” Beskikbaarheids Fooi ” want dit moes voorsien word.Hierdie heffing is vergete, die term bestaan seker nie meer.Maar vir my impliseer dit ” Dat ons betaal het vir die owerheid sodat ons water kan hê.So ek sou graag wou sê dat omdat ons dit al die jare betaal het,moes die owerheid planne beraam het het om dit onder alle omstandighede te doen.en nie om nou rond te skarrel nie!

Luister nie ·

Julle het nie geluister nie. Toe die ‘nuwe generasie’ oorgeneem het het hulle gedink hulle weet reeds alles. As jy ‘n titel het het jy die reg gehad om besluite te neem. Maak nie saak of jy enige ondervinding het in die bestuur van ‘n munisipaliteit of land nie. Waar het jy al gehoor dat ‘n provinsie soos die Kaap sonder water gaan opeindig? Die Kaap het altyd die hoogste reenvalsyfer gehad .. en daar was volop water. Is daar nie gehoor gegee aan waarskuwings en aan aanbevelings om opgaardamme te bou en in stand te hou nie? Is daar nie nuwe planne gemaak om soutwater te verwerk/suiwer om drinkwater van te maak nie of is die man wat dit uitgedink het nie BEE genoeg nie? NEE want hulle laat hulleself nie deur ‘colonialists’ voorskryf nie. Well well .. how well did that work out for you? Net jammer die publiek is STEEDS diegene wat die spit moet afbyt, ek glo nie die regeringsamptenare of munisipaliteitsbestuurders het ‘n tekort aan water nie. Almal is bekommerd oor die vakansiegangers wat meer water gaan gebruik, wees eerder bekommerd oor die vakansiegangers wat hulle vakansies GEKANSELLEER het agv die watertekort.

Ouma ·

Het die onlangse reën en sneeu enige verligting gebring? Of is die water see toe?

Chris ·

Wil voorkom of die grootste probleem politiek is. Soos ek verstaan was daar ‘n besigheid wat beweer het dat hy ontsoute seewater kan voorsien teen dieselfde prys as wat die munisipaliteit tans water voorsien. Hulle sou hul krag van sonkrag kry, maar dan sou die munisipaliteit geen wins op water maak nie.
Daar was ook ‘n projek waar krag opgewek sou kon word deur die prosessering van afval, maar dit was ook afgeskiet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.