Kaapstad-waterkrisis: Damvlakke in wese 10,7%

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Xanthea Limberg, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir informele nedersettings en waterdienste, het gesê die damme se stoorvlakke is nou op 20,7%, wat 0,7% minder is as ʼn week gelede. “Die laaste 10% van ʼn dam se water is grotendeels nie bruikbaar nie en die vlakke is dus eintlik 10,7%,” het Limberg gesê.

“Die metro is die grootste verbruiker van die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel en ons het die 20%-besparingsoogmerk wat deur die departement van water en sanitasie (DWS) gestel is bereik. Ons bedank alle inwoners en sakeondernemings, maar ons gaan eenvoudig meer moet doen om water te bespaar, die verbruik bly te hoog,” het sy gesê. Sy het alle verbruikers gemaan om waterverbruik na 100 liter per persoon per dag te verminder.

Volgens Limberg ondervind Kaapstad tans die ongenaakbare impak van klimaatsverandering met verminderde gemiddelde reënval per jaar. “Daar is nie genoegsame reën vir die volgende drie weke voorspel nie,” het Limberg verduidelik.

R22 miljoen is opsygesit om 75 bykomende werknemers te ontplooi na plekke waar daar watervermorsing of -lekkasies plaasvind. Limberg het gesê hul inbelsentrums is oorval met klagtes van waterlekkasies nadat die waterbeperkings ingestel is.

“Die stad se werknemers hanteer tot 800 water- en sanitasieprobleme daagliks. Die spanne prioritiseer en besoek eers die plekke waar die meeste water verlore gaan,” het sy verduidelik.

Volgens haar het sommige verbruikers al hul waterverbruik met tweederdes gesny, maar is daar sommiges “wat net besluit het hul belange is belangriker as enigiemand ander sʼn”.

ʼn Paar wenke van die Stad:

  • Spoel net die toilet wanneer dit regtig nodig is.
  • Stort net vir twee minute.
  • Vang jou stort-, bad- en waswater op en gebruik dit om die toilet mee te spoel of die tuin nat te lei.
  • Ontvries kos eerder in die yskas as om dit onder lopende water te plaas.
  • Gebruik ʼn koppie as jy tande borsel of skeer eerder as om die kraan net te laat loop.
  • Wag tot daar genoeg skottelgoed en wasgoed is voor jy die wasmasjien of skottelgoedwasser aanskakel.

Kyk só vir lekke op jou erf:

  1. Maak alle krane op die erf styf toe en moenie die toilet spoel nie.
  2. Skryf die lesing op jou meter neer.
  3. Wag 15 minute en skryf dan weer die lesing neer.
  4. Indien daar ʼn verskil in die lesing is, het jy ʼn lekkasie iewers op jou erf.
  5. Indien jy dit nie self kan regmaak nie, bel ʼn loodgieter.

Een lekkende toilet vermors tussen 2 600 en 13 000 liter water per maand en ʼn lekkende kraan tussen 400 en 2 600 liter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

‘n Paar maande gelede het ‘n sekere ANC-minister gesê die droogte in die Wes-Kaap is die Here wat die Wes-Kaap straf omdat die Wes-Kaap hoofsaaklik DA stem. Met sulke uitsprake, sal die ANC-regering nie een sent gee vir finansiering van ontsoutingaanlegte en boor vir water nie. Hulle sal geweld as die water opdroog eenvoudig afmaak as “die rassistiese ryk wit DA wat nie menseregte kan toepas nie”. Mark my words: die ANC gaan hierdie droogte in die Wes-Kaap gebruik om heeltemal daar oor te vat.

Snoefels ·

Wie op aarde ontvries kos nog onder a warm lopende kraan ? Jy haal dit uit die oggend voor jy werk toe gaan en die middag is dit reg vir aksie.. of mikrogolf of sit in die son as jy nou regtig haastig is.. en spoel net die toilet waneer dit REGTIG nodig is ? Beteken dit net as daar n reukie begin trek of wat haha

Kosie ·

Ek is ‘n inwoner van Kaapstad. Ek kry vroeër vandag ‘n e-pos van die Stad Kaapstad – gestuur aan almal wat op hul sogenaamde ‘e-billing’-stelsel geregistreer is – waarin gevra word dat waterverbruik verminder moet word. Die e-pos was uitsluitlik in Engels. Ons huidige waterkrisis is baie ernstig en ek wil hoegenaamd nie die aandag van hierdie ernstige kwessie aftrek nie, maar die Stad Kaapstad se blatante miskenning van die taalregte van Afrikaans- en isiXhosa-sprekende inwoners van die metropool is absoluut skokkend. In moeilike tye soos hierdie sou ek reken dat die Stad Kaapstad eerder almal se samewerking wil verkry, eerder as om mense te vervreem omdat hul taalregte geskend word. Of is dit net Engelssprekendes wat water vermors en dus tot spaarsamigheid gemaan moet word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.