Kaapstad-waterkrisis: Stad verminder waterdruk

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Die Stad Kaapstad het inwoners versoek om vol te hou om te midde van die voortslepende droogte in die Wes-Kaap water te spaar.

Damvlakke is Maandag op 25,2% vol gemeet. Die laaste 10% van water in damme is onbruikbaar, dus is die damme tegnies net 15,2% vol. Waterverbruik oor die afgelope week was 742 miljoen liter per dag, wat 42 miljoen liter bó die teiken van 700 miljoen liter is.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir waterdienste, het inwoners gewaarsku dat waterverbruik steeds te hoog is. Sy het gevra dat inwoners nie pogings om water te spaar verslap nie, veral nie in die lig van die bietjie reën wat onlangs geval het nie.

“Dit sal ʼn aantal opeenvolgende winters se goeie reënval neem vir ons damvlakke om te herstel en daar is geen waarborg dat ons die komende winter bogemiddelde reënval sal ervaar nie,” het sy gesê.

Limberg het gesê as deel van die stad se volgehoue pogings om water te spaar, is daar begin om die watervloei van die Faure-reservoir te beheer deur druk daar te verminder. As die druk verminder word, vloei daar minder water. Die sentrale en suidelike gedeeltes van die stad sal dus minder waterdruk ervaar.

“Waterdruk sal ook by die verbindings na die verspreidingstelsel verminder word, wat ʼn uitwerking op Blackheath, Kleinvlei, Kuilsrivier, Delft, Macassar, Firgrove, Somersetwes, Strand en Gordonsbaai sal hê.”

Vlak 3B-waterbeperkings geld sedert Februarie in die stad weens uiters lae damvlakke. Ingevolge dié waterbeperkings mag tuine slegs Dinsdae en Saterdae vir ʼn uur lank met munisipale water natgelei word. Dit mag ook net voor 09:00 of ná 18:00 met emmers of ’n gieter gedoen word.

Verbruikers word aangemoedig om die webblad Think Water te besoek vir nuttige wenke om waterverbruik te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Wel gedaan Kaaptstad. Was die munisipaliteit onder ANC beheer was die water al in Desember op.

Paul ·

So bietjie pedantiese wiskunde.

As die laaste 10% van ‘n dam se kapasiteit altyd onbruikbaar is, moet dit nie ingereken word in die totaal nie. So as die dam se totale kapasiteit 100 000 megaliter is, maar 10 000 daarvan is nie bruikbaar nie, dan is die kapasiteit eintlik net 90 000 megaliter.

So dan is 15.2% van die totale kapasiteit eintlik gelyk aan ‘n 16.8% vol dam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.