Kaapstad-waterkrisis: Verbruikers gewaarsku

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Die Stad Kaapstad het waterverbruikers gewaarsku dat die onlangse reën ʼn geringe verskil in damvlakke gemaak het en dat inwoners moet aanhou om water spaarsamig te gebruik.

Rdl. Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir informele nedersettings, het gesê teen Maandag was die Wes-Kaapse damvlakke op 25,4%.

“Met die laaste 10% van ʼn dam se water wat grootliks nie bruikbaar is nie, beteken dit die damvlakke is effektief op 15,4%, wat baie laag is vir dié tyd van die jaar,” het sy gesê.

Die algemene waterverbruik is tans 619 miljoen liter water per dag. Dit is 119 miljoen liter meer as die nuwe doelwit van 500 miljoen liter water per dag onder die vlak 4-waterbeperkings wat onlangs vir ʼn onbepaalde tydperk ingestel is.

“Waterverbruikers moet daarop let dat damvlakke oor die afgelope maand, sedert 6 Junie, slegs met 6% gestyg het. Ons vra elke verbruiker om minder as 87 liter water per dag te verbruik, of jy by die huis, by die skool, by die werk of elders is. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie teiken nie net vir huishoudelike gebruik is nie.”

Limberg het gesê die waterbeperkings is deel van hul proaktiewe droogtebestuur-ingrypings, tesame met die grootskaalse drukverminderingprogramme oor die hele Kaapstad om verbruik te verminder. Ander noodmaatreëls word tans ook ingestel.

Lees meer oor hoe om water te bespaar.
Lees meer oor wat vlak 4b-waterbeperkings beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Mens sal graag, vir gemoedsrus onthalwe, wil hoor watter ander maatreëls ingestel word. En veronderstel dit reën eers weer volgende jaar, of die jaar daarna, is gebottelde water al uitweg? Dit sal ook help as julle so ‘n drie tot vyfjaar plan en wanneer die implementeringsdatums van daardie planne is, bekend kan maak. Gebottelde water vir tuine, ry see toe om te gaan bad?

Houtoog ·

Hier by ons aan’t oewer van die Vaaldam word water gespuit tot dit in die strate in stroompies afvloei.
Dankie ook Philip vir die gebruik van die woord ‘verbruik’ vir water.

Jan ·

Drinkwater en badwater en klerewas-water en kosmaak-water …. wat van die riool stelsels van so ‘n groot stad ? Mens kan nog water koop om te drink, maar riolering gaan neuk.

Willemien ·

Ek dink dit is tyd dat Stad Kaapstad ophou dreig oor waterbesparings en eerder die verbruikers inlig oor watter planne in plek is as die damme leeg is. Ons kan bespaar en ekstra betaal tot ons blou in die gesig is, dit gaan nie die dreigende krisis laat verdwyn nie. Ek dink dit is realisties om te sê dit gaan nie genoeg reën die winter om ‘n drastiese verskil aan die damvlakke te maak nie. Wat gaan dus die komende somer gebeur as die damme leeg is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.