Kaapstad-waterkrisis: ‘Vrot appels’ binnekort geïdentifiseer

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad (Foto: Patricia de Lille / Facebook)

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad (Foto: Patricia de Lille / Facebook)

Die Stad Kaapstad sal eersdaags die eerste “vrot appels” se name bekend maak wat te midde van die stad se waterkrisis beboet is vir verskeie waterbeperkings-oortredings.

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het die gebiede waar die boetes uitgereik is in ʼn verklaring bekend gemaak en gesê “die vrot appels ruïneer die pogings van vele inwoners en ondernemings wat reeds hard werk om water te bespaar”.

De Lille het gesê daar is die afgelope week 36 boetes uitgereik vir oortredings van die vlak 3B-waterbeperkings. “Ons het tydens die voortdurende droogte ʼn beroep op alle inwoners, ondernemings en regeringsdepartemente gedoen om saam met die stad te werk om water te bespaar.”

Die boetes, wat strek van R500 tot R2 000, is aan inwoners of ondernemings in die volgende gebiede uitgereik:

  • Blackberry Mall, Strandfontein
  • Van der Heeverstraat, Kuilsrivier
  • ʼn Bouperseel in Mitchells Plain
  • Riebeekstraat, Kaapstad
  • ʼn Bouperseel in Duinefontein, Heideveld
  • Rosmeadweg, Kenilworth
  • Turfhall, Lansdowne
  • Barnardstraat, Bellville
  • Seekoei Lane, Zeekoevlei
  • Vasco Boulevard, Vasco
  • 16de Laan, Elsiesrivier
  • Voortrekkerweg, Parow
  • Cambridgestraat, Plattekloof
  • ʼn Motorhandelaar in Voortrekkerweg, Bellville
  • Island Park, Paardeneiland
  • Duminy, Parow
  • Durbanweg, Wynberg
  • ʼn Bouperseel in Retreat
  • Victoriaweg, Southfield

Hierdie boetes is uitgereik vir verskeie oortredings, insluitend die gebruik van drinkbare water om ʼn voertuig was, die was van harde oppervlaktes met ʼn tuinslang, besproeiing sonder toestemming en buite die aangewese tye vir tuinnatmaak, die gebruik van ʼn sprinkelstelsel, en die vermorsing van water.

“Dit is onaanvaarbaar dat mense steeds nie gehoor gee aan waterbeperkings nie. Dit is onwettig. Die misbruik van water beteken dat ons almal daaronder ly.”

Die stad het Maandag gewaarsku dat daar teen die huidige tempo van waterverbruik en die gebrek aan goeie reënval slegs 129 dae se bruikbare water vir inwoners oor is.

Die Stad het in ʼn verklaring gesê damvlakke het tot 34,5% gedaal, wat 1,7% minder is as verlede week. Met minstens 10% van ʼn dam se water wat nie bruikbaar is nie, staan damvlakke wesenlik op 24,5% wat genoeg bruikbare water vir 129 dae is.

Die jongste werklike verbruik staan op 801 miljoen liter water per dag. Dit is 101 miljoen liter bo die jongste teiken van 700 miljoen liter per dag op vlak 3B-waterbeperkings.

Die stad het ook aangedui hy gaan voortaan die name van inwoners en ondernemings wat water onverantwoordelik gebruik en beboet word, openbaar maak.

“Wat die bekendmaking van oortreders se name aangaan, sal die stad net die identiteit van die inwoners of kommersiële eiendomme publiseer nadat hulle ʼn boete betaal het of nadat hulle in die hof verskyn het,” het De Lille bygevoeg.

Verbruikers word aangemoedig om die webblad Think Water te besoek vir nuttige wenke om waterverbruik te verminder.

Enige oortredings kan aangemeld word by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sannie ·

Snaaks nie een Township nie. Is dit omdat daar geen watermeters is nie? Net soos krag steel. Niemand doen iets daaromtrent nie.

jaco ·

agter my huis is n pompstasie van die kaapse munisipaliteit. dit lek al amper 1 jaar lank duisende liters DRINKWATER elke maand. toe daar tegnici van die munisipaliteit daar was oor iets anders, het ek hulle gewys op die lekplek. hulle antwoord: “die cover van die pomp moet reggemaak word. dit word van koper gemaak. sodra ons dit opgesit het, sal dit weer afgesteel word. so dis nie die moeite werd om reg te maak nie”. Dis nou die reaksie van iemand wat werk vir ‘n DA-BEHEERDE munisipaliteit. dan wil ek nie weet watse gemors in ANC-beheerde munisipaliteite aangaan nie. My klagtes by die vorige verkose DA raadslid het tot niks gelei nie. Die verkose nogal DA-raadslid wat haar opgevolg het, is geskors omdat hy na sy verkiesing in Augustus laasjaar, NIKS in sy wyk gedoen het nie. So ek sê weer: as dit so gaan onder die DA, dan sidder ek vir hoe dit in ANC-beheerde munisipaliteite gaan.

Speedguard ·

Neem ‘n foto en plaas dit op die Raad se webwerf,FB en ander , ek is seker hul sal dit nie ignoreer nie, dit help nie u kla by die werker nie, kla by die persoon in beheer , stuur vir Patrys ‘n boodskaop met die foto’s op haar FB, ek belowe sy sal reageer !

snoefie ·

tydens bouery word baie water gebruik nie waar nie? so was die boetes nie net om n voorbeeld te stel nie? niemand kanditbekostig om met kanne water uit PNP te bou nie.

Rynhardt ·

De Lille , u en DA wll oortreders van waterbeperkings bekend maak en verwys na hul as vrot appels.Moenie vergeet om die werklike vrot appels uit te wys nie.Onwettige immigrante betaal vir jare niks nie en kry lekker water gratis!!! Julle DA ignoreer hierdie groot probleem met mening! Natuurlike hulpbronne word bedreig in SA, want die liberale leef in permanente ontkenning.

Sagte Teiken ·

Goed so, maar hulle slaan nou toe op indiwidue meantime gebruik die fabrieke miljoene kiloliters water, maar ja .. dis makliker om die indiwidu te vang met die sproeier op sy grasperk as die dat die fabriek sal erken hoeveel water hy gebruik/mors per dag.

Griet ·

‘n maand gelede het ek geskryf van werkers wat by my kom water mors en nie weet dat water gespaar moet word nie. Gister vra die petrol joggie my of hy my vensters kan was. My antwoord was ‘nee, dankie, spaar maar daardie water’. Hy het egter aangehou en ek het hom laat begaan, gedink hy gaan net met die spons en die rubber skoonvee. Maar nee, gooi toe sowaar ‘n gieter water op die venster uit. Ek moet tog maar die eienaar laat weet dat sy werknemers nie bewus is daarvan dat water gespaar moet word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.